Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld
Lees: Genesis 49:1–28; Psalm 139:1–6, 16
SOAP: Psalm 139:16
U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.
Oordenking
In die laaste oomblikke van Jakob se lewe het hy beide seën en profesieë oor elkeen van sy seuns gespreek. Sy woorde het die karakter van sy seuns beskryf, die seëninge wat hulle sou ontvang en die eienskappe en reputasies van hul nageslag. Jakob het volle vertroue in God se planne vir die toekoms geopenbaar en volle vertroue in God se getrouheid om sy beloftes na te kom. God het spesifieke planne vir elkeen van Jakob se seuns en hulle nageslag gehad en in sy genade het Hy sommige van daardie planne aan Jakob geopenbaar.
Vir Ruben, Simeon en Levi sou hulle roekelose optrede hulle daarvan weerhou om posisies van leierskap binne die familie en nasie te ontvang. Terwyl hulle steeds seën van God sou ontvang en die Abrahamitiese verbond vorentoe sou dra, sou hulle vir hul dade gedissiplineer word. Ons kan baie uit hulle voorbeelde leer aangesien ons sien hoe sondige optrede mense dikwels van posisies van leierskap oor God se mense kan diskwalifiseer.
In teenstelling met die oudste drie broers, het Juda en Josef groot seëninge ontvang. Juda sou die vader van die konings van Israel wees en Josef die een deur wie die Messias sou kom. Hy sou die voorvader van die ewige koning van Israel wees en die Messias van die wêreld, Jesus Christus.
Josef het ‘n dubbele seën ontvang, want Jakob het Josef se seuns as sy eie geseën. Die getrouheid van Josef het toegelaat dat hy oorvloedig deur God geseën word. Op dieselfde manier as wat sondige optrede mense van leierskap kan diskwalifiseer, vertrou God hierdie posisie toe aan diegene wat lofwaardig en verantwoordelik is.
Al was hierdie woorde spesifiek op die seuns en nageslag van Jakob gerig, kan ons baie bemoediging en onderrig daarin vind. Ons word herinner aan die manier waarop God ons verlede, hede en toekoms ken en aan sy intieme betrokkenheid in elke stadium.
God het spesifieke planne en ‘n spesifieke toekoms wat vir elkeen van ons ontwerp is. Sal ons ons lewens, begeertes en planne aan God onderwerp met die vertroue dat Hy die volmaakte toekoms vir ons voorberei het? Terwyl ons poog om lewens te lei wat Hom eer, mag ons elke dag begin deur ons toekoms toe te vertrou aan die Een wat al ons dae geken het voordat enige van hulle ontstaan het.
Aangaande hierdie leesplan
"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/