Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld
Lees: Genesis 45:16-46:30
SOAP: Genesis 46:2-4
God het dié nag met Israel gepraat in ’n visioen en geroep: “Jakob, Jakob!”
Hy het geantwoord: “Hier is ek!”
Toe sê God: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om na Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar ’n groot nasie maak. Ek gaan saam met jou Egipte toe, en Ek sal jou beslis weer hierheen laat terugkom. Wanneer jy sterf, sal Josef jou oë toedruk.”
Oordenking
Die boek Genesis vertel die begin van ’n familie deur wie God die wêreld sou seën. Hierdie familie het begin met ’n man met die naam Abram (later Abraham). God het belowe om vir hom ‘n groot nageslag te gee, om vir hulle hul eie land te voorsien en daardeur al die nasies van die aarde te seën. God het ook vir Abram gesê dat sy nageslag vreemdelinge in ’n vreemde land sou wees, waar hulle uiteindelik slawe sou word en verdruk sou word, maar dat Hy hulle op sy volmaakte tyd van hul vyand sou verlos (Genesis 15:13-16).
Hierdie belofte het van Abraham na sy seun Isak oorgegaan, en van Isak na sy seun Jakob. Alhoewel verskeie van die laaste hoofstukke van Genesis hoofsaaklik op Jakob se seun Josef gefokus het, ontdek ons in vandag se leeswerk dat die gebeure opgeteken is om te wys hoe God Jakob en sy gesin (afstammelinge van Abraham) na die vreemde land Egipte gebring het.
Hierdie verslag verbind die verhaal met die beloftes aan die aartsvaders vroeër in die boek, en herinner die lesers van Genesis aan God se getrouheid en soewereiniteit. Die planne wat Hy aan Abram geopenbaar het, is nooit tersyde gestel nie. Hy het deur sy uitverkore volk gewerk, en in sy perfekte tydsberekening, om sy groot plan tot stand te bring.
God het voorheen op belangrike oomblikke in sy lewe in drome aan Jakob verskyn: by Bet-El, om sy roeping op Jakob se lewe te bevestig (Genesis 28:10-22), en in Paddan-Aram, toe God hom opdrag gegee het om terug te keer na die land van sy vaders (Genesis 31:1-3). En, weereens, het God in ’n droom aan Jakob verskyn om vir hom opdragte te gee en sy beloftes te bevestig terwyl hy op pad na Egipte was. In Egipte sou God voortgaan om Jakob se familie tot ’n groot nasie uit te bou. Hy het ook belowe om Jakob se familie uit Egipte te bring na die land wat Hy belowe het om aan hulle te gee.
God kan ons lei na plekke wat ons nie verwag nie of ons in omstandighede plaas wat ons nie verstaan nie. In hierdie oomblikke kan ons op God staatmaak om al sy beloftes na te kom. Hy is die een wat die beloftes maak, en Hy is die een wat getrou is om dit na te kom. Mag ons vashou aan sy beloftes en sy tydsberekening en sy karakter vertrou, ongeag wat gebeur.
Aangaande hierdie leesplan
"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/