Kies God, Nie Die Wêreld NieVoorbeeld
Lees: Genesis 45:1–15
SOAP: Genesis 45:5
Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.
Oordenking
Die boodskap van versoening is 'n algemene tema in die boek Genesis. Toe Jakob gereed was om Esau te ontmoet nadat hulle vir twintig jaar van mekaar af weg was, was hy baie bekommerd. Esau het Jakob egter vergewe vir sy bedrog omdat hy ook oorvloedig geseën is (Genesis 33:9). Josef se broers was eweneens bekommerd dat hulle swaar gestraf sou word vir die onregte wat hulle aan Josef gedoen het. Josef het hulle eerder vergifnis aangebied en versoening gesoek. Hy kon dit doen weens sy begrip van God se soewereiniteit.
In plaas daarvan om sy broers te vergeld of te straf toe hulle hul skuld erken het, het Josef hulle vergewe. Hy het besef dat, hoewel sy broers hom as 'n slaaf verkoop het, dit God was wat hom daarheen gestuur het. God het in die twee dekades sedert die voorval verbasende dinge gedoen deur al die onregte teen Josef ten goede te gebruik. Josef het God se soewereiniteit erken en het nie nodig gehad om wraak te neem nie.
‘n Behoorlike begrip van God se soewereiniteit lei tot vergifnis. Josef het gesien hoe God die onregte teen hom gebruik het om 'n groter voordeel te bewerkstellig en om die lewens van sy gesinslede te spaar. In plaas daarvan om in weerwraak te reageer, het Josef met medelye gereageer. Sy medelye het op sy beurt tot versoening tussen die broers gelei. Die eenheid van die familie is herstel.
God is altyd aan die werk. Hierdie gebeure toon sy begeerte om lewens te bewaar en sy vermoë om selfs boosheid te gebruik om sy soewereine doelwitte te bewerkstellig. God sluit alles in sy plan in, en daarom moet daar geen plek in ons harte wees vir vergelding of bitterheid nie.
Ware versoening is slegs 'n uitvloeisel van wat God in ons doen. Sonder vergifnis is versoening onmoontlik. Maar sonder 'n behoorlike begrip en erkenning van God se soewereiniteit sal ons nie bereid wees om diegene te vergewe wat ons onreg aangedoen het nie. Om ' n wrok te koester of vergelding te soek, toon 'n onwilligheid of onvermoë om die soewereiniteit van God te aanvaar. Hy werk in alle dinge, selfs kwaad, om sy doelwitte te bewerkstellig. Wanneer ons die gebeure in ons lewens as stukke van God se groot verlossingsplan beskou, kan ons met sy hulp ander vergewe en met hulle versoen word.
Wat 'n seën is hierdie verslag van die broers tog vir ons terwyl ons na eenheid met ander gelowiges streef. As Josef sy broers kon vergewe, kan ons sekerlik ons behoefte aan vergelding oorgee en eerder versoening met ander gelowiges soek. Eenheid was van kardinale belang in die gekose familie van God, en dit is net so belangrik in die liggaam van Christus vandag.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
"Kies God, Nie Die Wêreld Nie" bestudeer die lewens van twee mans, Jakob en Josef, hul gesinne en die keuses waarvoor hulle te staan gekom het. Jakob en Josef het albei ‘n spesifieke belofte van God ontvang, maar hulle het hul geloof baie anders uitgeleef. In hierdie Bybelstudie gaan ons ook ontdek hoe God se beloftes aan sy mense nooit onvervuld bly nie, selfs al verbrou hulle dikwels.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/