Leef met VisieVoorbeeld
"Bereik Jou Bestemming"
In my boek"Visioneering" gebruik ek die Bybelse figuur, Nehemia, om die effektiewe strewe na 'n visie vir jou lewe te illustreer. Nehemia het Jerusalem, die oorlogsbeskadigde stad, herstel en weer funksioneel gemaak soos dit moes wees. Hy het gereël dat mense die stad se muur herbou. Hy het sosiale en geestelike hervorming ingestel. Hy het die tempel weer in bedryf gebring. Hy het die mense oortuig om die Sabbat te onderhou soos God beplan het.
Soos ek gesê het, almal bereik iets in die lewe. Nehemia het doelbewus iets bereik.
Toe hy sy visie voltooi het, het hy God gevra om hom met guns te onthou. Dit bewys dat hy oor sy bestemming gedink het. Hy het nooit die Goddelike aard en betekenis van sy werk uit die oog verloor nie.
Soos Nehemia, het jy 'n bestemming om te bereik. God het voor jou geleenthede en verantwoordelikhede geplaas wat oorloop van Goddelike betekenis. Hy het aan jou gawes, talente en verhoudings gegee wat wag om namens sy koninkryk ontgin te word. Jy het 'n ryk geskakeerde prentjie in jou gedagtes van die toekoms wat jy verkies. Jy het 'n visie.
Soos Nehemia se verhaal wys, is meer as net verbeelding en passie nodig om 'n werklikheid te maak van dit wat kon en moes wees. 'n Visie vereis meer as 'n eenmalige ontmoeting met God. Selfs daardie ervarings waar Hy duidelik 'n idee op jou hart gelê het, sal jou nie die toerusting of momentum gee wat nodig is om dit enduit te voltooi nie.
Die bereiking van 'n bestemming vereis geduld, navorsing en beplanning. Dit vereis geloof in God se vermoë om agter die skerms te werk. Vertroue dat Hy sal deurvoer wat Hy begin het.
Daar sal tydperke wees wanneer jy voel jy maak min — indien enige — vordering. Gedurende daardie tye sal dit maklik wees dat jou aandag afgelei kan word. Dit is wanneer jy saam met Nehemia moet verklaar:
"... Ek is besig met 'n groot werk, Ek kan nie kom nie ..." (Nehemia 6:3). Of jou visie familie, bediening of besigheidsgeoriënteerd is, hulle het gedurige aandag nodig. Bly dus gefokus.
Onthou veral, daar is Goddelike potensiaal in alles wat God in jou hart gegee het om te doen. Die einde van 'n Godgegewe visie is God. Sy heerlikheid is die uiteindelike mikpunt. Laat jou hemelse Vader toe om die visies te ontgin wat jy tot sy glorie najaag.
Terwyl jy bid en nadink, identifiseer die stappe en uitdagings wat onmiddellik voor jou lê op jou eie pad tot jou bestemming. Begin dan.
Klik hier vir meer inligting oor die boek Visioneering: Your Guide to Discovering and Maintaining Personal Vision deur Andy Stanley.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Almal bereik iets in die lewe. Party mense bereik doelbewus iets — hulle word beskou as diegene met visie. "Om met visie te leef" is om die rigting in te slaan wat nodig is om drome te realiseer. Hier is jou uitnodiging om elke dag vir 'n week lank, tyd in te ruim om oor God se visie vir jou lewe na te dink en daaroor te bid.
More