Om in Liefde te GroeiVoorbeeld

Growing in Love

DAG 5 VAN 5

Om in Liefde te Groei Is Om Helder te Skyn

Ter ere van die 50ste herdenking van die maanlanding, het die Harris Poll ('n marknavorsingsmaatskappy) ‘n meningspeiling onder Amerikaanse kinders gedoen om uit te vind wat hulle wil doen wanneer hulle volwasse is. Om ‘n YouTube-ster te wees, was eerste op die ranglys. 

Meer as ooit tevore, begeer mense om die kollig op persoonlike glorie te laat val. Daarteenoor, word Christene geroep om helder tot eer van God te skyn. Hoe lyk dit prakties? 

Kom ons vind uit deur sommige van vandag se Skrifgedeeltes te beklemtoon.

”… werk met vrees en bewing aan julle verlossing … Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind … Doen alles sonder kla en teenpraat, sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees ... Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal …” (Filippense‬ ‭2:12-15 AFR20).
… ”Laat julle lig só voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik” (Matteus‬ ‭5‬:‭16‬ ‭AFR20).‬‬
”Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie” (Jakobus‬ ‭1‬:‭22‬ ‭AFR20).
… ”Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde werksaam is” (Galasiërs‬ ‭5‬:‭6‬ ‭AFR20)‬‬.

Hierdie Skrifgedeeltes openbaar dat 'n Christen se lig verwys na ‘n proses om deur geloof en in samewerking met die Heilige Gees in liefde te groei. 

Hoe lyk 'n stralende Christen dan? Is dit 'n persoon wat heeltyd glimlag en nooit 'n slegte dag beleef nie? Is dit iemand wat indrukwekkend gaaf is, of op die oog af die vrygewigste persoon wat jy ken? 

Dalk, en dalk ook nie. Onthou dag drie se oordenking oor sielsbelyning – ons aksies en ons motiewe is van belang.

Neem 'n oomblik om na te dink oor die verstommende waarheid vervat in die aanhaling uit die gewilde boek getiteld: The Boy, the Mole, the Fox and the Horse [Die seun, die mol, die jakkals en die perd]:

Hoe vreemd is dit nie, ons kan net ons uiterlike sien, maar alles gebeur innerlik. 

Stralende liefde is nie oppervlakkig nie. Dit vergelyk nie, oordeel nie, kritiseer nie, is nie bevooroordeeld nie, maar gee liewer aandag aan wie God is. 

Ons skyn God se liefde wanneer ons besef ons stryd is teen geestelike duisternis en ons biddend vir eenheid met ander Christus-volgelinge veg. Ons skyn wanneer ons opstaan en optree teen ongeregtighede, vrygewig en dankbaar lewe, al die goeie dinge doen wat ons kan en ons vyande liefhet.

Die sekulêre wêreld probeer ons verlei om ons eie plesier, opvattings,  gewildheid en doel buite God te soek. Ironies genoeg, het sekularisme 'n wêreld geskep waarin mense chronies onseker en leeg voel. Hulle het dit óf verwaarloos, óf verwerp om God te verheerlik en sy Naam groot te maak. 

Daarteenoor, weet die meeste mense wat God verheerlik dat hulle identiteit en belangrikheid in Hom gevestig is. 

Broers en susters in Christus, om voortdurend Christus se liefde te laat skyn, moet ons onthou dat ons deur Christus ten volle geborge en oneindig belangrik is. Hy is ons lewe, ons sekuriteit en vir ons belangrik. 

Wanneer ons deur sy Gees leef, geborge in wie ons in Hom is, straal liefde helder uit ons en ontvang God al die eer. 

”Maak saam met my die Naam van die Here groot, ja, laat ons saam sy Naam verheerlik!” (Psalm 34:4 AFR20).

Gebed: Glorieryke en ontsagwekkende God van liefde en lig, ek verootmoedig myself voor U. Ek sal U alleen verheerlik. Ek verwerp die leuens van onsekerheid. U is vir my belangrik, en ek is in U geborge. Ondersteun my sodat my geloof in u suiwer, opofferende en stralende liefde toeneem. In die Naam van Jesus. Amen. 

Kry meer inhoud van pastoor Amy oor haar episodes in die You’ve Heard It Said potgooi.  

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Growing in Love

Wat werklik saak maak, is om God en ander lief te hê, maar hoe kan ons dit effektief doen? Die waarheid is dat ons nie ander uit eie krag ten volle kan liefhê nie. Ons kan vanuit God se opregte en kragtige liefde leef wanneer ons ons oë op Hom rig en onsself nederig voor Hom neerlê. Leer meer oor hoe om in liefde te groei met behulp van pastoor Amy Groeschel se 5-dag leesplan.

More

Ons wil graag vir Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek gerus: https://www.life.church/