Om in Liefde te GroeiVoorbeeld
Om in Liefde te Groei Is Nederig
Geniet jy dit om nuwe vaardighede aan te leer? Ek neem nou al meer as twee jaar daagliks Spaanse lesse deur my foon te gebruik. Sover is dit "muy divertido" (baie pret)!
Ek hou daarvan om in kennis en begrip oor feitlik enigiets te groei. Om die waarheid te sê, om onkundig te wees oor iets maak my 'n bietjie bang. Miskien is dit omdat dit my kwesbaar, onkundig of onbelangrik laat voel, terwyl kennis my 'n gevoel van selfvertroue en beheer gee.
Ek moet nou iets wat taamlik lelik is voor jou bely. Ek is besig om te probeer om minder van ‘n wysneus te wees. Ek hou daarvan om reg te wees. As jy jou hiermee kan vereenselwig, hoop ek dat hierdie oordenking jou sal seën en help!
Die volgende is belangrik: dit is goed om te leer. Ons moet veral in ons kennis van die Woord van God groei! Tog is daar 'n paar probleme met kennis, soos wat ons in vandag se Skrifgedeeltes sal sien.
Ek wil jou eintlik aanmoedig om ekstra tyd te gebruik om by vandag se gedeeltes stil te staan.
Wanneer jy dit doen, hou die volgende twee groot probleme met kennis in gedagte:
- Ons kan so maklik op kennis in plaas van God staatmaak.
- Ons kan met trots op, en verdedigend teenoor ons kennis reageer.
Hierdie begeerte na kennis en om altyd reg te wees, skep 'n groot versoeking om op ander neer te sien wat anders as ons dink en optree. Om kennis te verafgod, sal jou isoleer van ander wat van jou menings verskil.
Waar presies pas liefde en die geleentheid om die evangelie effektief met ander te deel in hierdie konteks in? As hierdie vraag ongemak veroorsaak, weet dat ek hierdie saam met jou leer!
Op die lange duur kan trots en liefde nie hand aan hand gaan nie.
Om soos Jesus lief te hê — Hy, wat as God alles geweet het, het nogtans van sy status afstand gedoen om te dien, te onderrig en die mensdom te red — sal ons in sy nederigheid moet wandel.
Om dit te doen, moet ons van alle trots ontslae raak.
Om soos Jesus nederig lief te hê, beteken om enige kennis waaroor ons beskik met God se wysheid en onderskeidingsvermoë te deurdrenk. Slegs dan sal ons in staat wees om deernisvol by mense betrokke te raak, vrae aan hulle te stel en hulle te waardeer net waar hulle hulle bevind – in hul vreugde of pyn, en in hul sonde of onkunde. Dis wat Jesus gedoen het.
Ons moet só teenoor mense optree: Nederig. Belangstellend. Betrokke. Om mense werklik lief te hê, vereis dat ons hulle moet ontmoet, goed na hulle moet luister en nie net kennis aan hulle oordra nie.
Elke dag is dit óns keuse. Ons kan vanuit selfvoldane kennis, of vanuit Christus se nederige, genadige waarheid en lewensreddende liefde leef.
Soos 1 Korintiërs 13 ons herinner, is ons kennis maar net gedeeltelik, maar God ken alles ten volle. Laat ons dus sy manier van nederige liefde vertrou.
Gebed: Wees stil en soek na die Vader. Vra die Heilige Gees om jou oë vir verskuilde trots oop te maak. Vra Hom om jou elke keer aan te kla as trots inkruip. Vra dat God se liefde die prominentste eienskap van jou lewe sal wees.
Aangaande hierdie leesplan
Wat werklik saak maak, is om God en ander lief te hê, maar hoe kan ons dit effektief doen? Die waarheid is dat ons nie ander uit eie krag ten volle kan liefhê nie. Ons kan vanuit God se opregte en kragtige liefde leef wanneer ons ons oë op Hom rig en onsself nederig voor Hom neerlê. Leer meer oor hoe om in liefde te groei met behulp van pastoor Amy Groeschel se 5-dag leesplan.
More