Om in Liefde te GroeiVoorbeeld
Om in Liefde te Groei Is Ander-Georiënteerd
“Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander" (Filippense 2:3-4).
Om in liefde te groei beteken om op ander te fokus. Ek kan jou nie regtig liefhê as ek voortdurend op mý aksieplan, mý goedkeuring, mý eetlus of mý volgende prestasie gefokus is nie. Dus, om mekaar regtig lief te hê, sal ons waaksaam moet bly vir die vyand se planne wat ons selfgefokus hou.
Ek glo dat aandagafleiding 'n primêre wapen is wat ons geestelike vyand gebruik. Waarvan wil ons vyand ons aandag aflei? Die antwoord is: enigiets wat vir God saakmaak. Byvoorbeeld:
- Om die evangelie te deel (God se reddingsopdrag)
- Intieme gemeenskap met God
- Om mekaar lief te hê
Om die waarheid te sê, as die vyand ons aandag lank genoeg van hierdie noodsaaklikhede kan aflei, weet hy dat verdeeldheid, isolasie en vernietiging die gevolge sal wees.
Kom ons begin deur aandagafleiding te definieer. Uiteindelik is dit enigiets wat ons aandag of gedagtes op iets anders vestig. Hier is 'n algemene voorbeeld van aandagafleiding: jy het 'n bietjie tyd op hande terwyl jy vir 'n afspraak wag, en in plaas daarvan om God te vra vir aansporing om iemand te identifiseer vir wie jy kan bel of bid, mors jy jou vrye tyd deur jou aandag op die jongste nuus, ‘n telefoonkennisgewing, sosiale media-plasing of ‘n ander vorm van geïsoleerde vermaak te vestig.
Ek ken dit en het dit gedoen! Dit is 'n gewoonte wat so maklik insluip, want alles is op ons vingerpunte beskikbaar.
Ek wil nie aandagafleibaar lewe nie. Ek wil nie die status quo handhaaf nie. Ek wil nie nalaat om die persoon reg voor my oë raak te sien nie. Ek wil soos Jesus liefhê!
Kom ons besef dat ons mekaar werklik nodig het. Trouens, studies bewys dat gesonde verhoudings in gemeenskappe goed vir ons fisieke, emosionele en sielkundige welstand is.
Besluit vandag om meer doelbewuste verbindings aan te knoop en standvastige interaksies te vestig. Besluit om 'n bron van daaglikse aanmoediging te wees vir almal wat jy teëkom. Besluit om 'n lewe te lei wat 'n voorbeeld van God se liefde en op ons koninkryksmissie gefokus is.
My man, Craig, is my inspirasie wanneer daar oor 'n lewe gepraat word wat ander-georiënteerd is. Ek het hier ’n lys gemaak van hoe ek hom gereeld sien leef. Ek hoop dit inspireer jou ook:
- Hy bel deurentyd iemand wat seer het.
- Hy is getrou om vir ander te bid.
- Hy neem tyd om geduldig instruksies te gee of te luister.
- Hy doen wat ook al gedoen moet word – ongeag die persoonlike opoffering.
- Hy prioritiseer ons gesin en vir my.
- Hy bely en vra om verskoning wanneer hy verkeerd is.
- Hy beplan maniere om vrygewig te wees.
- Hy spreek altyd waardering en dankbaarheid uit.
- Hy plaas homself laaste.
- Hy bemoedig iemand altyd met spesifieke inligting.
- Hy onthou en erken 'n belangrike dag waarop iemand verlies ervaar het.
- Hy vra bedagsame vrae in plaas daarvan om oor homself te praat.
- Hy deel altyd die kos op sy bord!
Craig se lewe vertoon die ryp, soet vrug van die Heilige Gees. Hierdie oënskynlik klein, maar getroue dade van opofferende liefde is koersvas, omdat hy voortdurend kies om 'n lewe te omarm onder leiding van die Gees in hom. Ons het elke dag die geleentheid om dieselfde te doen. Oordink dus maniere waarop jy meer ander-georiënteerd kan wees.
Gebed: Vader, maak ons harte en oë oop vir hoe ons 'n Godgesentreerde, ander-georiënteerde lewe kan lei. Help ons veral om ons aandag te vestig op hulle wat die naaste aan ons is. Mag ons mense opreg liefhê en in woord en daad waardeer. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Wat werklik saak maak, is om God en ander lief te hê, maar hoe kan ons dit effektief doen? Die waarheid is dat ons nie ander uit eie krag ten volle kan liefhê nie. Ons kan vanuit God se opregte en kragtige liefde leef wanneer ons ons oë op Hom rig en onsself nederig voor Hom neerlê. Leer meer oor hoe om in liefde te groei met behulp van pastoor Amy Groeschel se 5-dag leesplan.
More