Om in Liefde te GroeiVoorbeeld
Om in Liefde te Groei Is van God Afhanklik
Dit gebeur so maklik dat ons lewens so besig raak dat ons vergeet wat werklik belangrik is. God het egter in hiérdie tye van my lewe vir my begin wys hoe belangrik verhoudings is en om in liefde te groei. Vir die volgende paar dae gaan ons verken hoe ons liefde vir God en ander kan groei sodat ons God se uiteindelike begeerte en roeping vir ons — om sy liefde vir ons te ervaar en daaruit te lewe — kan ondervind.
Ons lees juis in Matteus 22:37-40 dat die hele wet en die profete daarop berus dat ons God met hart, siel en verstand moet liefhê en ons naaste soos onsself.
Jy het dit dalk geweet, maar dis makliker gesê as gedaan, nie waar nie?
Ek kies om in hierdie baie belangrike roepings te groei, eerder as om aan duisende verskonings te dink hoekom dit onmoontlik kan wees. Ek neem aan dat jy dieselfde wil doen.
Wel, hoe kan ons waarlik op hierdie manier liefhê? Ons kan eintlik nie — nie op ons eie nie.
Ons moet na God kyk — die bron van liefde! Die Bybel leer ons dat God nie alleen die bron van liefde is nie, maar dat God liefde is (sien 1 Johannes 4:16). As Christene is ons tans daartoe in staat om opreg lief te hê, omdat ons eerstehandse ervaring van sy genadige liefde vir ons het (sien Filippense 2:1-2).
Alhoewel ons dit nooit op aarde sal regkry om perfek lief te hê nie, kan ons altyd groei in ons kapasiteit om lief te hê. Dit is moontlik om vanuit God se liefde te leef wanneer ons leer om Hom in elke oomblik te erken en op Hom te vertrou.
Onthou jy hoe jou lewe was voordat jy God se genade en vergifnis ervaar het? Dink daaroor na en noem drie persoonlike seëninge wat jy nou as Christen beleef.
Wanneer ons besef, daaraan vasklou en vreugde vind in wie God is, is ware liefde die resultaat!
Kom ons kyk na die voorbeeld van ons Here Jesus Christus:
Jesus het aan dié wat Hom gekritiseer en in Hom getwyfel het, vertel dat alles wat Hy gedoen en gesê het onder leiding van sy Vader in die hemel was. Die uiteinde is dat wat mense in sy lewe gesien en beleef het, geheel en al volmaakte, deernisvolle, ewigheidsveranderende liefde was.
Om in liefde te groei, gaan ons nie op ons eie regkry of om harder te probeer nie. Ons moet by Jesus leer en deur gebed 'n intieme verhouding met God nastreef.
Ons sal kennis van die Bybel moet hê oor hoe om in liefde te wandel, en ons sal moet leer om na sy lewe in ons te kyk en daarvan afhanklik te wees. Wanneer ons dít doen, sal ons liefde oorloop van sy goedheid in ons lewens.
Gebed: Neem 'n oomblik om met God te praat. Bely jou behoefte om meer van Hom afhanklik te wees. Betuig aan God die opwinding om sy kind te wees, en vra Hom om spesifieke maniere te openbaar hoe jy vanuit sy Heilige Gees in jou kan leef.
Aangaande hierdie leesplan
Wat werklik saak maak, is om God en ander lief te hê, maar hoe kan ons dit effektief doen? Die waarheid is dat ons nie ander uit eie krag ten volle kan liefhê nie. Ons kan vanuit God se opregte en kragtige liefde leef wanneer ons ons oë op Hom rig en onsself nederig voor Hom neerlê. Leer meer oor hoe om in liefde te groei met behulp van pastoor Amy Groeschel se 5-dag leesplan.
More