Ten volle Toegewyd: SkeppingVoorbeeld
Toe Het God Alles Gesien Wat Hy Gemaak Het en dit Was Baie Goed
Aan die einde van die skeppingsverhaal lees ons:
"Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed ..." Genesis 1:31.
Ongelukkig glo baie mense die leuen dat ons wêreld so beskadig is dat daar geen hoop op 'n beter môre is nie. As sommige die seer en afgryse van ons huidige wêreld sien, neem hulle aan dit is omdat God nie omgee nie — of dat God nie eens hier is nie.
Dit is nie die prentjie wat die Bybel vir ons gee nie. Die Bybel vertel ons dat God alles geskep het en dit was goed. God, wat hierdie goeie wêreld geskep het, het nie moed opgegee nie. Hierdie gebroke wêreld is die rede waarom God gekies het om 'n mens te word wat aan die kruis sou sterf vir die sondes van hierdie wêreld. Hy het egter ook uit die dood opgestaan en die duisternis van hierdie sondige wêreld verslaan. Dit is hoe toegewyd God daaraan is om die goedheid van sy skepping te herstel.
As dissipels van Jesus is ons uitgenooi om deel te wees van God se verlossingsplan om hierdie wêreld van sonde te red en die skepping te herstel.
Die vraag wat ons moet vra, is: Hoe speel ons ons rol?
Deur die weg van Jesus te beoefen. In Jesus sien ons wat dit werklik beteken om mens te wees — Hy het nie 'n nuwe manier van menswees bekendgestel nie, Hy het ons die ware manier van menswees gewys. Wanneer ons ons lewens toewy aan die weë en woorde van Jesus, word ons die mense wat ons doel in vennootskap met God kan vervul.
Wat sou verander as ons die onderrig en voorbeeld van Jesus werklik ernstig opneem? Wat as ons Jesus as die voorbeeld sien waarvolgens ons ons lewens moet leef? Wat sou anders wees as ons leer om God lief te hê met alles wat ons is en waarlik ander op dieselfde manier liefhet soos Jesus ons liefhet?
Dinge sou op betekenisvolle maniere begin verander.
Aan die einde van Jesus se lewe op aarde, kort nadat Hy opgevaar het na die hemel, lees ons in Handelinge 1:15 dat daar toe ongeveer 120 gelowiges was. Dis al.
Daar was egter iets besonders aan hierdie klein groepie volgelinge van Jesus — hulle het hoop gehad. Hulle het geglo dat, as gevolg van Jesus, die toekoms beter en blinker sou wees as die verlede. Hulle het ook geweet hulle, as sy dissipels, het 'n rol om te speel om die toekoms 'n werklikheid te maak.
Hulle het hulle dus daartoe verbind om die weë van Jesus te beoefen. Oor die verloop van die volgende 300 jaar, sou daardie groepie 120 gelowiges aangroei tot ongeveer 30 miljoen Christene en die grootste godsdienstige groep in die Romeinse Ryk word — dieselfde ryk wat die Een gekruisig het wat hulle later Koning genoem het.
Joernaalvrae
- Glo jy dat die toekoms beter en blinker as die verlede kan wees? Waarom of waarom nie?
- Wat dink jy beteken dit om die weg van Jesus te beoefen?
- Wat sou in jou lewe verander as jy die voorbeeld van Jesus ernstig sou opneem?
Memoriseervers
"Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het" Efesiërs 2:10.
Aangaande hierdie leesplan
Wou jy al ooit in jou verhouding met God groei, die Bybel beter verstaan en leer hoe om Jesus vandag in ons wêreld getrou te volg? Met die Bybelse verhaal as ons gids, kom ontdek saam met ons waarhede en ontwikkel vaardighede wat ons sal help om ten volle toegewyde volgelinge van Christus te word. Hierdie leesplan is deel 2 van die 9-dele Volledig Toegewyde Reis.
More