In Jesus Is Jy...Voorbeeld

In Jesus Is Jy...

DAG 20 VAN 29

In Jesus is ek 'n Burger van die Hemel

Lees: Efesiërs 2:19, Filippense 3:20


SOAP: Filippense 3:20

“Maar ons is burgers van die Hemel van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag,” 


Oordenking

Wat ons identiteit betref, is wie ons is soveel meer as ons naam. Ons beskryf dikwels iemand deur hulle ouderdom, haarkleur, die werk wat hulle doen, die taal wat hulle praat en die land waarvandaan hulle kom in te sluit. Hierdie besonderhede help ons om 'n prentjie in ons gedagtes te vorm, sodat ons 'n gedeelde begrip kan hê van wie ons praat, of om ons te help om iemand makliker te identifiseer as ons hulle vir die eerste keer ontmoet. 

Gedurende hierdie studie het ons geleer dat die identiteit wat God ons gee, baie verskil van die manier waarop die wêreld ons beskryf – en dit is goeie nuus! God sê vir ons dat ons sy kinders is, uitverkore, geliefd en vergewe. En wanneer ons in Jesus as ons Verlosser glo, kry ons ook 'n nuwe burgerskap in die hemel! 

Die wêreld se manier om te definieer wie ons is, skep skeiding en verdeeldheid van mekaar. Dit laat ons vergelyk, meeding en dink dat ons beter is as ander. Die identiteit wat God ons gee, is altyd 'n uitnodiging tot insluiting en eenheid. Wanneer ons deel is van God se familie, kan ons almal die hemel ons huis noem. Sy liefde strek na al sy kinders en ons word nie geïdentifiseer deur ons prestasies of suksesverhale nie, maar deur die manier waarop ons mekaar liefhet. 

In Jesus is ons burgers van die hemel. Ons kan vertrou op die hoop wat ons op Hom het, dat Hy ons Verlosser is en dat Hy eendag weer sal kom. Totdat daardie dag aanbreek, wanneer ons vir ewig by God kan wees, moedig Paulus se brief aan die Filippense ons aan om vas te staan in ons geloof. Hou vas aan wie God sê jy is, leef ’n lewe wat goeie vrugte dra en eer aan die koninkryk van God gee en wees lief vir mekaar. 


Gebed

Here, dankie dat U my 'n nuwe begin gegee het toe U my sondes vergewe het en dat U my 'n nuwe identiteit, 'n nuwe tuiste en 'n nuwe hoop gegee het. Ek bid dat my lewe 'n weerspieëling sal wees van die liefde wat U aan my bewys het, sodat ander eendag hul ewige tuiste by U in die hemel kan toe-eien. Amen.











Dag 19Dag 21

Aangaande hierdie leesplan

In Jesus Is Jy...

Wie is ek? Waarom is ek hier? Maak ek saak? As ons nie weet wat ons identiteit is nie, kan ons nie leef soos ons bestem is om te leef nie. Ons kan probeer om ons identiteit deur ons gesin, loopbaan, vriende, stokperdjies of nasionaliteit te definieer. In hierdie studie gaan ons fokus op die waarheid wie ons in Christus is en daardeur ons ware identiteit verstaan.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://LoveGodGreatly.com