VriendskapVoorbeeld

Vriendskap

DAG 28 VAN 43

Die Belangrikheid van Liefde 

Lees: 1 Korintiërs 13, Spreuke 12:26

SOAP: 1 Korintiërs 13:4-7

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. 


Oordenking

Hierdie gedeelte uit 1 Korintiërs 13 word dikwels vir troues en op Valentynkaartjies gebruik, maar hierdie verse is nie primêr vir getroude pare nie. Dit is geskryf in 'n brief aan 'n kerk, in die konteks om te leer hoe die kerk as die liggaam van Christus funksioneer, om mekaar se gawes te gebruik tot die voordeel van die hele gemeenskap. Ons moet almal daaraan herinner word dat, as ons waarlik ons vriende liefhet — en ons kerkgemeenskap behoort van ons naaste vriende in te sluit — dan sal ons met ware liefde teenoor hulle optree.  

Ons kan ons vriendskappe evalueer deur na hierdie lang beskrywing te kyk en onsself af te vra of ons verhoudinge so lyk. Is ek geduldig met my vriende, is ek vriendelik teenoor hulle, nie afgunstig oor hulle besittings of talente nie? Spog ek of tree ek verwaand op teenoor hulle? Is ek ongeskik? Het ek enige ander motivering vir die vriendskap? Word ek maklik kwaad oor wat hulle doen? Hou ek hulle sondes teen hulle? Is ek eerlik met hulle? Dra ek hulle laste, glo ek die beste van hulle, hoop ek die beste vir hulle en verduur ek lyding en swaarkry saam met hulle? 

Gebed

Here God, help my om my vriende met hierdie soort liefde lief te hê. Help my om te besef waar ek moet groei en gee my die genade wat ek benodig om dit te doen. Amen.

Dag 27Dag 29

Aangaande hierdie leesplan

Vriendskap

Ons is geskep vir gemeenskap en vriendskap. God het die mensdom geskep in die konteks van 'n verhouding met Homself en met ander. Al lyk dit eenvoudig en pynvry om alleen deur die lewe te gaan, is ons bedoel om in gemeenskap te wandel. Ons kan nie sonder mekaar oorleef nie. Die manier waarop ons vir mekaar omgee en mekaar se laste dra, toon Christus se liefde aan die wêreld.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com