Die Meer Van Minder: 'n Gids Tot Minder Goed En Meer VreugdeVoorbeeld
Begin Net Êrens
Wanneer dit kom by minimalisering, hoef jy nie te begin by die moeilike dinge nie. Begin maklik. Begin klein. Begin net êrens.
Begin jou meer-van-minder reis by die maklikste moontlike plek. Ek sal aanbeveel dat jy begin by die areas in jou huis wat jy die meeste gebruik. Sitkamers, slaapkamers en badkamers is veral goeie plekke om te begin. Hulle is gewoonlik makliker en dit vat minder tyd om uit te sorteer as kombuise, kantore of solders. Nog meer belangrik: omdat jy dié vertrekke gereeld gebruik, sal jy vinnig die voordele van minimalisme ervaar deur 'n verskil te maak aan daardie areas.
Deur oortollige goed uit jou sitkamer te verwyder, verander jy dit in 'n rustiger spasie met minder afleidings waar die gesin saam kan ontspan en nader aan mekaar kan groei. 'n Badkamer wat geminimaliseer is, sal dit baie makliker maak om soggens reg te maak vir die dag wat voorlê. 'n Slaapkamer wat uitgesorteer is, bied voordele dag en nag. Soos wat jy die oortollige goed vanuit hierdie areas in jou huis verwyder, sal jy die positiewe effekte daarvan feitlik onmiddellik begin ervaar.
Dit is in die haak om klein te begin. Jy mag dalk wil begin deur die oortollige goed in jou motor, 'n laai, die sitkamer, of net een badkamer kas te verwyder. Jy sal begin om sukses te ervaar en die voordele te sien daarvan om met minder oor die weg te kom. Mettertyd sal jy die nodige vaardighede aanleer om die meer uitdagende areas in jou huis (en lewe) aan te pak.
Onthou, aan die begin fokus jy op maklike gevegte, om vinnige oorwinnings te behaal en om momentum op te bou in jou reis om jou huis en lewe uit te sorteer. Doen die opvallende opruimwerk in die areas waar jy die meeste tyd deurbring. Jy sal heel waarskynlik hierdie eerste stap kan regkry in net 'n paar uur. Moenie nou al enige moeilike besluite neem nie. Vat net 'n leë sak en verwyder alles waarvan jy maklik kan afstand doen, saam met alles wat jy nie meer wil hê nie — items wat jy heel waarskynlik al lank terug van ontslae moes raak. Sit alles net in die sak en sit dit vir nou opsy. Jy sal dit later uitsorteer.
Hierdie is nie 'n deeglike skoonmaak nie. Jy het nog nie jou hele huis afgehandel nie. Jy kan egter alreeds terugstaan, na die resultate kyk en die vrede begin voel wat kom van leef in 'n huis wat genoeg het, maar nie te veel nie.
Wat is die drie maklikste areas in jou huis wat jy kan skoonmaak?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die Woord van God sê dat God se waardes verskillend is van die wêreld se waardes. Dit is duidelik in die area van rykdom en besittings. "Hoe meer jy het, hoe beter!" skree die wêreld. God fluister: "Ek is genoeg. Moenie geluk of sekuriteit soek in enige iets anders nie. Jy sal meer vervuld wees as jy minder besit." Minimalisme, die aksie om doelgerig minder te besit is méér as om net van goed ontslae te raak. Dit bied 'n pad om ons lewe te optimaliseer onder God.
More