Koninkryk KomVoorbeeld

Kingdom Come

DAG 2 VAN 15

GEBED:

Vader, dankie dat U aan my as u seun of dogter 'n nuwe identiteit gegee het. Onderrig my wat dit vandag beteken.


LEESSTUK:

Baie mense begin met hul geestelike reis omdat hulle die frustrerende en dikwels pynlike gevolge van hul besluite en gedrag ervaar. Gedrewe deur 'n begeerte na verandering, kom hulle dan kerk toe of sluit by 'n groep aan. Daar is natuurlik niks verkeerd om na verandering te smag nie. Trouens, dit is presies wat God op sy beurt vir jou begeer. 


God se beginpunt vir die veranderingsproses is net dikwels verskillend van ons s'n.


Dis tipies van ons om die vinnigste weg na verandering te neem, dus fokus ons op die gedrag wat ons graag wil verander. Ons probeer onsself forseer om deur blote wilskrag te verander. Dit kan ons egter in 'n frustrerende maalkolk van mislukking en skande lei. Waarom? Omdat ons probleem baie dieper as ons gedrag strek.


Stel jou voor jy sien 'n reuse domino wat dreig om te val en jy kan sien dit sal slegte gevolge hê. Jy storm daarheen en probeer om die domino met mag en mening te keer. Jy slaag daarin om die domino weer te stut, maar net wanneer jy wil omdraai, sien jy dit begin weer oorhel. Jy herhaal hierdie siklus aanmekaar terwyl jy soms slaag en soms misluk, maar selfs die suksesse is maar van korte duur. Iemand vra jou dan om van die uitputtende werk agteruit te tree en met 'n bietjie afstand na die situasie te kyk. Dan sien jy die domino van 'n ander hoek af en jy besef dit was eintlik die laaste domino uit 'n lang ry wat elkeen oor die ander geval het tot by hierdie finale een. Hierdie nuwe perspektief laat jou besef jy sal ver terug moet gaan as jy hierdie laaste domino wil keer.


God weet ons optrede spruit uit die mens wat ons is. Dus begin sy veranderingsproses deur vir ons as 'n seun of dogter van God, 'n nuwe identiteit te gee van iemand wat in sy oë geliefd en waardevol is. Ware verandering moet dus op 'n fundamentele hartvlak begin en daarvandaan stelselmatig tot by ons gedrag vorder. 


Enersyds kan dit ontmoedigend wees om te besef ons probleem lê veel dieper as wat ons gedink het, maar andersyds kan die wete dat God die fundamentele werk vir ons doen, ook bemoedigend wees. Hy is verbonde aan die verandering waarmee Hy begin het.


NADENKE:

Staan 'n bietjie tyd af om voor God stil te word. Geen afleidings. Geen domino's. Dit mag dalk 'n rukkie neem voor jy innerlike stilte in jou gedagtewêreld kry. Wees geduldig en hou daarby. Vra God, namate jy in die stilte gevestig raak, om jou 'n dieper bewustheid van sy teenwoordigheid te gee. Vra Hom om aan jou die gedeeltes in jou hart te openbaar waaraan Hy wil werk om dit weer nuut te maak.


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Kingdom Come

Ons het gehoor dat Jesus "lewe in oorvloed" aanbied en ons smag na daardie ondervinding. Ons wil die lewe hê wat aan die anderkant van verandering is. Watter soort verandering het ons nodig? Hoe moet ons te werk gaan om te verander? In Koninkryk Kom sal jy 'n nuwe manier verken om die onderstebo en binnestebuite lewe te lei waarin God ons nooi.

More

Ons wil graag vir North Point Community Church bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek asseblief: http://northpoint.org