In Die BeginVoorbeeld
Lees: Genesis 8:1-14; Psalm 29:10-11
SOAP: Psalm 29:10-11
"Die Here heers oor die watermassas, Hy heers vir altyd as koning. Die Here gee krag aan sy volk; die Here seën sy volk met oorvloed."
Oordenking
God het Noag onthou. God het definitief nie vir Noag en sy familie vergeet terwyl hulle in die ark was nie, dus wat beteken dit dat Hy vir Noag onthou het? Toe God aan Noag gedink het, beteken dit dat sy optrede verander het. Toe God aan Noag gedink het, het Hy begin om die vloedwaters te laat terugtrek. Die waters het weggesak en die aarde het begin opdroog.
Te midde van 'n wêreldwye vloed, het God aan Noag gedink. God het die waters laat sak sodat Noag en sy familie weer veilig op die aarde kon lewe. God was in beheer van daardie vloed, en Hy is in beheer van die vloede, letterlik of figuurlik, wat ons vandag ook moet trotseer.
Die Hebreeuse woord vir watermassas in Psalm 29 is dieselfde woord wat gebruik word in Genesis 8. As God koning was oor daardie vloed, die een wat alle lewe op aarde vernietig het, dan is Hy sekerlik die Koning van jou vloed! Hy troon bo die watermassas van jou emosies, jou eensaamheid, jou rampe, jou vrese, jou behoeftes en jou pyn uit. Wanneer die "vloedwaters" kom, kan ons sy stem onthou. Dit maak nie saak wat die krag of volume van die waters is nie, God is Koning. Hy troon oor die waters. Hy troon bo alles en almal uit.
God dink aan sy mense. Hy reageer op hul noodkrete. Wanneer ons uitroep na Hom, hoor Hy nie net nie, Hy reageer ook. Hy reageer in ooreenstemming met sy karakter. Hy is getrou, nie net om te hoor en te onthou nie, maar ook om te reageer. Die God wat aan Noag gedink het, dink ook aan jou en aan my. Die God wat bevel gegee het oor die waters sodat dit moet terugtrek, werk ook vandag in jou lewe. Hy is ons ewige Koning.
Gebed
Vader, dink aan my in U groot ontferming. Ek het u goedheid en guns vandag so nodig. Ek glo dat u troon oor al die vloede in my lewe wat nou woed. U is getrou om my gebede te hoor en te beantwoord. Dankie dat U aan my dink. Amen
Aangaande hierdie leesplan
In die Begin is 'n ses weke lange Bybelstudie oor Genesis 1-11. Hierdie studie ondersoek die skeppingsverhaal, die oorsprong van die mensdom, die invloed van sonde op die wêreld, die onmiddelike belofte van verlossing, die redes vir die vloed, God se voorsiening vir Noag en sy familie, God se eerste verbond met die mensdom en die geslagsregister van die Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/