In Die BeginVoorbeeld
Lees: Genesis 6:9–22; Hebreërs 11:7
SOAP: Hebreërs 11:7
"Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom."
Oordenking
Noag het guns by God gevind. Terwyl hy beskryf word as 'n godvresende man, onberispelik onder sy tydgenote, was dit net God wat gekies het om genade aan Noag te betoon. Noag se getrouheid aan God en sy bereidwilligheid om sy opdragte te volg, staan in direkte kontras met diegene om hom. Hy het in 'n goddelose geslag geleef, maar hy het gekies om God te volg. Henog het ook naby God geleef en is beloon deur weggeneem te word; Noag het Henog se voorbeeld gevolg en ook naby aan God geleef.
God het Noag beveel om iets te doen wat hy nog nooit gesien het nie. God het Noag gewaarsku dat iets ongehoords en onverwags sou gebeur. Hoewel Noag moontlik getwyfel het, is dit nie in die Skrif opgeteken nie. Al waarvan ons vertel word, is Noag se geloof.
Noag was bereid om dit wat die wêreld aangebied het opsy te sit en God te volg. Hy het in geregtigheid geleef en alles gedoen wat God hom beveel het. Noag word geprys vir sy geloof in Hebreërs 11. Noag het geglo dat God bestaan en dat hy beloon sou word as hy sou voortgaan om saam met Hom te wandel.
As ons die onbekende in die gesig staar, wend ons ons dan na die veiligheid wat die wêreld bied, óf na God se opdragte? As ons besluit om ’n stap in geloof te neem, vind ons miskien nie aardse rykdom of sukses nie, maar ons vind guns by God. Om naby God te leef, sy opdragte te eerbiedig en uit te voer, is hoe ons ons geloof beoefen en Hom behaag.
Gebed
Here, ek verlang daarna om saam met U te wandel. Wys my die areas in my lewe waar ek U nie eer of u Naam verheerlik nie. Gee my moed om dit uit my lewe te sny. Wys my waar my geloof ontbreek en versterk my geloof sodat ek kan voortgaan om met U te wandel. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
In die Begin is 'n ses weke lange Bybelstudie oor Genesis 1-11. Hierdie studie ondersoek die skeppingsverhaal, die oorsprong van die mensdom, die invloed van sonde op die wêreld, die onmiddelike belofte van verlossing, die redes vir die vloed, God se voorsiening vir Noag en sy familie, God se eerste verbond met die mensdom en die geslagsregister van die Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/