Waar Gebed 'n Werklikheid WordVoorbeeld

Where Prayer Becomes Real

DAG 4 VAN 5

Dag Vier

Bid sonder Enige Veroordeling

Wanneer ons besef dat ons vergewe is, kom 'n wonderbare vryheid in ons harte op. Ons voel lewendig en vry. Ons kan wel maklik hierdie vredestoestand vergeet en 'n nuwe gevoel van veroordeling ervaar. Baie van ons dink, alhoewel God ons vergewe het, Hy geweldig teleurgesteld in ons is. Weereens word skuldgevoelens en skaamte in ons harte wakker gemaak en worstel ons met vrees en angs terwyl ons probeer om getrou te wees. 

Dit is juis dán wanneer ons Romeine 8:1 moet lees: "Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie." Daar is geen veroordeling nie. As jy besef dat vergifnis na vryheid lei, hoeveel te meer nie die besef dat daar geen veroordeling is nie? Die vryheid van hierdie wete kan ons ook na teenstrydige denke lei. Hierdie vryheid is nie vir ons om net te doen wat ons wil nie. Dis nie 'n wettelose soort vryheid nie. Dit is 'n vryheid wat na eerlikheid lei. 

Ek glo dat niemand eintlik probeer om in hul gebede oneerlik te wees nie, selfs al kan ons gebede uiters oneerlik wees. Ons sien ons sonde, ons opstandigheid, ons gebrokenheid en ons stryd. Tog noem ons dit nie by die naam nie, maar ons vra wel vir God om dit weg te neem of reg te maak. Wanneer ons wel ons sonde raaksien, maak ons oorvloedig verskoning, in die hoop dat as ons vir God wys hoe jammer ons is, Hy ons miskien sal vergewe. Ons vergeet egter dat daar geen veroordeling is vir dié wat in Christus Jesus is nie — in plaas daarvan om dit te aanvaar en die waarheid oor ons eie swakheid na Hom te bring, kruip ons van Hom af weg en voel die hele tyd skuldig. 

Die enigste manier om werklik te glo — diep in jou hart te glo — dat daar nou geen veroordeling in Christus Jesus is nie, is om al die dinge wat ons voel ons veroordeel, na Hom te bring en voor sy voete neer te lê. Ons kan ook nie bloot net hierdie waarhede bevestig nie, ons moet dit toets. Ons moet toets of ons regtig glo dat ons verlossing slegs deur geloof in Christus is. Ons moet toets of daar geen veroordeling is nie. Ons moet onsself toets of ons waarlik glo, deur alles van onsself na God toe te bring. 

Waarmee is dit moeilik om die waarheid na God toe te bring? Waarmee is dit moeilik om te glo dat God bereid is om dit van jou te ontvang? Is dit jou woede, wellus, afguns of miskien jou gevoel van onreinheid, veroordeling of vrees? Hoe sal jy voel as jy weet Jesus bid nou vir jou, nie in die verlede nie, maar nóú terwyl jy al hierdie dinge ervaar. 

Aangaande hierdie leesplan

Where Prayer Becomes Real

Gebed kan soms na 'n baie eensame ervaring voel. Ek probeer dikwels terwyl ek bid om in my hart en siel stil te word, maar my gedagtes jaag in alle rigtings. Soms raak ek sommer net aan die slaap. Daar is tye wanneer dit voel asof my gebede van die plafon af terugbons. Wat ons dikwels nie besef nie, is dat die Here juis in hierdie omstandighede vir ons goeie nuus bied. Kom ons ruim tyd in om oor die goeie nuus van gebed na te dink.

More

Ons wil graag Baker Publishing vir die verskaffing van hierdie leesplan bedank. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://bakerbookhouse.com/products/235866