Waar Gebed 'n Werklikheid WordVoorbeeld
![Where Prayer Becomes Real](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F24996%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Dag Een
Om die Goeie Nuus oor Gebed te Hoor
Wanneer ek oor my lewe terugkyk na hoe my gebedslewe was, het dit menigmaal 'n plek geword om myself te bewys of om te presteer. Iewers langs die pad het ek begin glo dat God van my verwag om goed te wees as dit by gebed kom. Wanneer ek dus misluk — wanneer my gedagtes dwaal of ek aan die slaap raak — voel ek skuldig omdat ek nie beter is nie en maak dit my skaam.
Dit is juis in ons stryd met gebed waar dit nodig is om die goeie nuus oor gebed te ontdek. Paulus verklaar dit in Romeine 8:26: "Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie." Ons weet nie hoe ons veronderstel is om te bid nie. Dink daaroor na. Wanneer God aan jou en jou vermoë om te bid dink, weet Hy dat jy nie seker is hoe om te bid nie. Hy weet. Hy verstaan.
As jy dit net daar laat, maak dit jou baie neerslagtig. Dit is egter tog bemoedigend as God bevestig dat ons nie weet hoe om te bid nie. Ek vind troos in die wete dat God weet en verstaan. God hou nie nie net by verstaan op nie. God het iets daaraan gedoen! In Hebreërs 4:14-16, lees ons dat ons 'n groot Hoëpriester in Jesus het wat ons versoekings verstaan — Hy was ook versoek, maar het nie gesondig nie — en Hy het reeds opgevaar na die hemel. Ons Hoëpriester sit nou aan die regterhand van God, "agter die voorhangsel" as ons "veilige en onbeweeglike lewensanker" (Hebreërs 6:19). Dit is hoekom ons die vrymoedigheid het om "na die genadetroon van God te gaan" (Hebreërs 4:16).
Ons vrymoedigheid is nie gegrond op hoe goed ons bid nie. Ons vertroue rus nie op die fondament van ons eie vermoëns, ons vaardighede, ons kennis, of hoe goed ons is nie. Ons kan tot God nader, te danke aan wat Jesus vir ons gedoen het. Die rede hoekom dit sulke goeie nuus is, is nie omdat ons goed is, weens ons vaardighede of toewyding nie, want dit kan ons nie in God se teenwoordigheid bring nie. Dis omdat Jesus reeds alles vir ons behaal het. Christus het ons gered, nie omdat ons goed is nie, want Hy het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was. (Romeine 5:8).
Wanneer jy dus bid, dink aan wat jy doen wanneer jy voel dat jy "misluk" omdat jy nie goed kan bid nie. Raak jy gefrustreerd, maak jy beloftes aan God om harder te probeer of probeer jy self beter word as wat jy is en byt op jou tande om net volgende keer weer te misluk? Ervaar jy skaamte wanneer jy bid omdat jy nie kan rus in die waarheid dat God weet dat jy nie weet hoe om te bid nie? Hoe sal jou gebedslewe verander as jy al jou mislukkings na God in gebed neem, soekende na die God wat weet dat jy nie weet hoe om te bid nie en wat reeds die oorwinning vir jou behaal het?
Aangaande hierdie leesplan
![Where Prayer Becomes Real](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F24996%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Gebed kan soms na 'n baie eensame ervaring voel. Ek probeer dikwels terwyl ek bid om in my hart en siel stil te word, maar my gedagtes jaag in alle rigtings. Soms raak ek sommer net aan die slaap. Daar is tye wanneer dit voel asof my gebede van die plafon af terugbons. Wat ons dikwels nie besef nie, is dat die Here juis in hierdie omstandighede vir ons goeie nuus bied. Kom ons ruim tyd in om na te dink oor die goeie nuus van gebed.
More