Wedstryd Van Die LeweVoorbeeld

Wedstryd Van Die Lewe

DAG 2 VAN 10

Wat sê Olimpiese kampioen Wayde van Niekerk oor sport en die lewe ...

Sport gaan nie vir my oor oomblikke nie. Ek fokus eerder op die lewe en al die geleenthede wat ek kry. Jy moet élke geleentheid aangryp. In my lewe gaan dit vir my oor die hele lewensreis. Ek weet nie waar dit gaan eindig nie; daarom kan ek nie fokus op een oomblik nie – ál die oomblikke vorm deel van die reis. Ek weet nie wanneer my sportloopbaan tot ’n einde gaan kom nie, maar as ’n mens net gehoorsaam is en met ’n oop hart die Here toelaat om jou te gebruik, dra dit by om jou storie soveel kragtiger te maak. 

As kind het ek so baie vrese en twyfel gehad. Selfs toe ek by die Olimpiese Spele was – maar God het my sterker gemaak en my selfvertroue gegee, my verander in iemand wat die mense om hom kan inspireer om self groter hoogtes te kan bereik en die lewe te waardeer.

As ek sou sê die hoogtepunt van my loopbaan was die wen van die 400 m-finaal by die Olimpiese Spele, gooi ek soveel ander hoogtepunte weg. En die ander hoogtepunte was elkeen net so belangrik in die proses om my die sterker persoon met meer selfvertroue te maak.

Ek sien elke “klein” hoogtepunt as 'n treetjie nader aan groter dinge, want die Here het my geseën met ongelooflike oorwinnings vroeg in my loopbaan. 

Ons moet beweeg na wat ons roeping is. As jy gaan vashaak by ’n oorwinning op die sportveld en dink jy het nou gearriveer, mis jy die punt en gaan jy in ’n emosionele put beland, want dan is daar mos verder niks om voor te lewe nie. ’n Mens moet oppas om te gefokus te raak op materiële dinge waarmee die Here ons seën. Dinge soos ’n Olimpiese medalje, die motor wat jy bestuur, die geld wat jy maak, is daar vir ’n kort tydjie. Hierdie lewensreis gaan eintlik oor wat in jou hart is, hoe jy help bou aan God se koninkryk en jou nalatenskap.

Ek wil nie geken word as die ou met die mooi Audi nie, maar as ’n Godvresende, liefdevolle, gawe, nederige atleet wat sy lewe vir God gelewe het. En selfs in my lewe ná atletiek moet dit steeds so wees. 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Wedstryd Van Die Lewe

Die lewe en sport het baie raakpunte. Dit vra harde werk, oefening en toewyding om ’n wenner in sport te wees – en so ook in die lewe. Maak God die “afrigter” van jou lewe. Doen die spel van die lewe saam met God in sy span – dit maak jou ’n wenner! Hierdie leesplan is saamgestel uit WEDSTRYD VAN DIE LEWE deur Johan Smith en Jan Willem Swanepoel.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://www.cumbooks.co.za