In gesprek met my HereVoorbeeld
Bid gedurig
Alhoewel daar baie voorskrifte, voorbeelde en skemas vir gebed bestaan, is hulle slegs as hulpmiddels bedoel en hoef nie een van hulle slaafs nagevolg te word nie. Jy kan wel geskrewe gebede gebruik en daarby baat vind op dié tye wanneer jou eie woorde min word, en dit vir jou moeilik is om jou gevoelens in woorde uit te druk.
Dit is dus nie vir jou nodig om soos iemand anders te bid nie. Wat Jesus ons van gebed leer, kan in drie punte saamgevat word, skryf Philip Yancey in sy boek Prayer:
1. Hou dit eerlik.
2. Hou dit eenvoudig.
3. Hou aan daarmee.
Moet nooit ophou bid nie. En wanneer jy bid, wees eerlik, bid eenvoudig en hou aan bid. Om die waarheid te sê, hoef jou gebede nie eens altyd woorde te hê nie — wanneer jy voor God stil word en in aanbidding voor Hom kniel, is woorde glad nie nodig nie. Hierdie stilword voor God is sekerlik die gebed waarin die Here die meeste plesier het. Wanneer jy klaar voor God se genadetroon stil geword het, kan jy met Hom gesels soos ’n kind met sy Pa, met die seker wete dat Hy jou liefhet en vir jou omgee, en elkeen van jou gebede op die heel beste manier sal antwoord.
Here Jesus, leer my asseblief om heeltemal eerlik te wees wanneer ek met U in gesprek tree en om my gebede eenvoudig te hou. Maak my bereid om gedurig te bid. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Al sukkel jy om die regte woorde te vind en al wonder jy of jou gebede ooit help, is gebed iets waarmee jy erns móét maak. Nina Smit word in 15 oordenkings saam met jou stil om dié belangrike onderwerp en sorg vir ’n positiewe inspuiting vir jou gebedslewe! Hierdie leesplan is saamgestel uit ’N LEWE NABY GOD deur Nina Smit.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za