Woorde wat Lewe GeeVoorbeeld

Speaking Life

DAG 6 VAN 6

Sosiale Media 

Ek sou nie hierdie leesplan "WOORDE WAT LEWE GEE" kon afsluit sonder om kommentaar te lewer oor die wêreld van sosiale media waarin ons leef nie. Sosiale media het sonder twyfel 'n GROOT invloed op ons gedagtes en dus ook op ons denke. Insette uit hierdie bron is uiters oorheersend. Het jy al die positiewe, lewegewende waarde van sosiale media oorweeg teenoor die negatiewe en afbrekende strik wat dit gewoonlik is? 

Daar is so baie mense wat deesdae aan angstigheid en depressie ly. Ek glo dit kan teruggespoor word na 'n oorweldigende hoeveelheid negatiewe insette, asook 'n minimale hoeveelheid lewegewende tyd wat in die natuur of die Woord van God deurgebring word. Ongeag of dit jou televisie, Facebook-, Twitter- of Instragram-rekening is, behoort jy jou tyd voor die skerm in oënskou te neem. Daar is baie mense wat verbaas sal wees oor die hoeveelheid ure wat ons werklik met ons oë vasgenael voor 'n skerm sit. Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek glo dat daar wel enkele lewegewende foto's, kommentare en video's beskikbaar is. Ongelukkig vul ons ons denke verreweg met te veel rommel, selfverheerliking en hovaardige sieninge met soveel negatiwiteit. Ons is meestal onbewus van die verwantskap tussen ons skermtyd en depressie. Baie mense oorweeg nie eens hoe daardie INSETTE ons UITSETTE beïnvloed nie. Ons hoef ons werklik nie te bekommer oor enigiemand anders se menings nie, slegs God s'n.

Hierdie wêreld, die nuus en ons omstandighede kan ons maklik laat voel of ons onsself in 'n woestyn of dorre landstreek bevind. Ons siele smag na lewe en moet lewegewende voedsel kry — sy woorde, sy skepping, sy gemeenskap. Voel jy depressief omdat jy te lank in die woestyn of dorre landstreek van sosiale media en skermtyd rondgedwaal het? Kom na die lewende water sodat Hy jou siel kan versadig. Skakel die skerms af en maak die Woord van God oop. Vra Hom om jou daar te ontmoet en sy woord vir jou lewend te maak. Gaan dan buitentoe. Stap 'n entjie, kry 'n vlieër in die lug, lees 'n goeie boek of gaan kuier by 'n lewegewende vriend.

Kan ek jou uitdaag om sommer 'n sabbatsverlof van sosiale media te neem? Bid daaroor wanneer jy dit moet doen en baken dan 'n hoeveelheid tyd daarvoor af. Dit sal 'n soort vastyd wees. Indien jy daarna voel dat die sabbatsverlof van sosiale media vir jou waardevol was, verbind jouself om beperkte tyd daar deur te bring. Oorweeg om slegs opheffende of Christelike inhoud te plaas. Aangesien daar soveel skeiding in ons land is, kan jy besluit om iets wat opbou, inspireer en lewe gee, aan 'n wêreld in pyn te bring. 

Die lewe kan soveel eenvoudiger wees, met minder spanning. Ons kan soveel meer hoop koester. Ons moet die tyd wat ons voor 'n skerm van allerlei onbelangrike goed sou lees, eerder gebruik om tyd deur te bring met Iemand wat belangrik is!  

Om werklik te lewe, moet jou woorde lewegewend wees, moet jy oorvloedig lewe en jou daaglikse INSETTE heroorweeg. Verander jou insette om jou uitsette te verander. Ons lewensdae is vlugtig, begin dus NOU.

Oordink:   Watter veranderinge kan jy maak om jou sosiale media se skermtyd in te kort of heeltemal te staak? Watter produktiewe dinge kan jy met die oortollige tyd doen?

Gebed:    O Heer! Help my om my skermtyd te beperk en meer tyd met U deur te bring. Ek wil 'n dapper lewe lei en lewegewende woorde tot ander se harte rig. Ek weet dit begin by my.

__________________________________________________________________

FINALE LEESPLANNOTA: Dit is Roxanne se passie om lewegewende waarhede tot ander se harte te rig. Sy hou daarvan om mense by rusoorde en byeenkomste toe te spreek. Sy bied ook haar eie DIEPER intensiewe werksessies aan en werk landwyd saam met kliënte, as 'n persoonlike lewensafrigter. Kom met haar in aanraking vir verdere inligting by RoxanneParks.com. Dit sal vir haar 'n eer wees om met jou in verbinding te tree. 

Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Speaking Life

Woorde, woorde, woorde, kragtige woorde! Woorde wat opbou of woorde wat afbreek. Woorde wat lewe gee of woorde wat die dood bring. Die keuse is ons s'n. Kom ons beoordeel die betekenisvolle mag wat ons woorde inhou.

More

Ons dank gaan aan Roxanne Parks wat hierdie plan voorsien het. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.roxanneparks.com/home.html