Leesplan inligting

Woorde wat Lewe GeeVoorbeeld

Speaking Life

DAG 1 VAN 6

Die Mag van die Tong 


Lewe en dood word deur die mag van die tong uitgeoefen! Glo ons dit? Al is die tong maar klein, kan dit uitmuntende toesprake lewer. 'n Vonkie, wat ook iets klein is, kan 'n groot bos aan die brand steek. 'n Skip se roer is nog iets kleins wat die koers van 'n enorme vaartuig kan bepaal. Tussen al ons liggaamsdele, is die tong die magtigste en kan jou wêreld aan die brand steek of lewe in 'n moeë siel blaas. Dis jou keuse.


Die Bybel leer ons dat ons woorde soos 'n brandende vuur kan wees, wat goeie vriende van mekaar skei, woede aanblaas en tot dwaasheid lei. Daarteenoor, sê die Bybel ook: "kalmerende woorde bring lewe" (Spreuke 15:4) … "die regte woord op die regte tyd is soos goue appels wat in silwer gemonteer is" (Spreuke 25:11), soos lewegewende water of "soet soos heuning en geneeskragtig vir die mens is" (Spreuke 16:24). Die invloed van ons woorde is dus ten goede of ten kwade.

 

Die mag van ons tong om woorde te gebruik is 'n unieke en invloedryke gawe van God. Wanneer ons die boek Spreuke lees, sal ons oplet hoe die mag wat ons woorde inhou, vers na vers duidelik na vore kom. Spreuke 12:6 leer ons: "Goddeloses stel met wat hulle sê, dodelike hinderlae vir ander; opregte mense red ander met wat hulle sê." Wie is dus in beheer van die tong? Vir wie moet ons blameer wanneer kwetsende woorde uit ons monde rol? Dit is noodsaaklik dat ons 'n bewuste besluit neem om ons woorde te tel.

 

Aangesien ons kragtige, positiewe en mooi woorde ander kan genees en ophef, moet ons hulle kwistig gebruik. Wanneer ons woorde waar en eg is, het hulle die vermoë om lewens te verander. Raak stil en dink daaroor na hoe jy kommunikeer. Moedig jou woorde mense aan om hul heel beste te lewer? Dien jou woorde as ondersteuning en om iemand se lyding te verlig? Koester, bemoedig en inspireer jou woorde jou eie kinders?


Ongelukkig kan emosies soos haat, vrees, woede, twyfel, frustrasie en gegriefdheid, ook deur ons woorde uitgedruk en aangevuur word. Ongeag of woorde geskryf of uitgespreek word, het hulle die mag om gesonde omstandighede en verhoudings af te breek en te verwoes.


Ek het jare gelede die uitdaging in Efesiërs 4:29 aanvaar: "Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom." Wat 'n kragtige riglyn. Dit sou 'n projek wees om my tong in toom te hou. In die lig van die dorre woestyn van kwetsende woorde, was ek opgewonde om op hierdie nuwe lewegewende avontuur te gaan. Ek wou lewe aan my wêreld gee deur met my eie tong te begin.


Aangesien ons tonge die mag oor lewe of dood het, moet ons bedag wees op wat ons sê en hoe ons dit sê. Oorweeg jou woorde, want jou woorde kan alles verander! 


Oordink:


Klein. Vinnig. Maklik. Oorweeg die invloed van jou woorde. Hoe kan jy meer lewegewende waarhede uitspreek en minder vernietigende woorde?


Gebed:


Here help my asseblief om uiters bewus te word van die mag van my tong en die woorde wat ek kies. Help my om woorde te sê wat nie dood nie, maar lewe sal bring.


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Speaking Life

Woorde, woorde, woorde, kragtige woorde! Woorde wat opbou of woorde wat afbreek. Woorde wat lewe gee of woorde wat die dood bring. Die keuse is ons s'n. Kom ons beoordeel die betekenisvolle mag wat ons woorde inhou.

Ons dank gaan aan Roxanne Parks wat hierdie plan voorsien het. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.roxanneparks.com/home.html

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid