Woorde wat Lewe GeeVoorbeeld
Kies Woorde wat Lewe Gee
Wat ons sê, maak saak. Woorde is by uitstek die sterkste mag wat tot die mensdom se beskikking is. Ons kan kies om hierdie mag opbouend aan te wend, om ander daarmee op te hef, of om hulle te vernietig. Jy kan iemand met 'n paar woorde seermaak. Sulke wonde mag genees, maar hulle los littekens wat nooit verdwyn nie. Ons woorde het geweldige krag, met die vermoë om te help of skade te doen, om te genees of te beseer, op te hef of te verwoes, op te bou of af te breek, om aanstoot te gee of vriendelik te wees, om te bemagtig of te vervreem, om te troos of te kritiseer.
Die woorde wat ons tuis gebruik, het 'n diepgaande en verstommende uitwerking op toekomstige gesondheid en welstand. Ouers kan met 'n skerp tong en snydende woorde hulle kinders heeltemal afbreek. Kinders kan teenoor hul ouers uitbars sodat die hele gesin verpletter is. Wanneer ons met uiters vernietigende woorde op 'n situasie reageer, kan die uitwerking oorweldigend en sielsvernietigend vir die ontvanger wees. Dit is so maklik om uitdrukking aan jou gevoelens en gedagtes te gee deur middel van jou stemtoon. Daarenteen, verg dit beheer, krag en volkome eerbaarheid om onsself op 'n positiewe wyse uit te druk, ongeag die omstandighede. Raak stil en haal diep asem voordat jy praat, veral wanneer jy gespanne is. As ouers, behoort ons woorde lewe aan ons kinders te bring, van hul geboorte af.
Huweliksmaats moet ook nadink oor die krag van hul woorde teenoor mekaar. Ons beroepe, die wêreldnuus, ons kinders en die lewe self, kan ons swaar laat dra. Ons behoort ons huwelike en huise op te bou met positiewe bemoediging wat ophef en voortspruit uit 'n lewegewende geloof — en nie uit trauma, spanning of vrees nie.
Joyce Landorf Heatherley het 'n boek geskryf: Balcony People. Sommige mense sit op die "balkon" van hul lewens, moedig jou aan en besiel jou deur hul bekragtiging. Ander is weer in jou "kelder" en doen presies die teenoorgestelde. Hierdie boek handel daaroor om 'n "balkonmens" te wees. Is jy 'n balkon- of keldermens?
Die Satan se geknoei poog om ons die krag van ons woorde te laat onderskat. Aangesien dit in sy aard is om te vernietig, fokus hy gedurig daarop om ons woorde in 'n negatiewe rigting te laat vloei. Moenie hom toelaat om suksesvol te wees nie! Hy weet jou woorde is nie betekenisloos of kragteloos nie. Jou woorde het skeppende krag, net soos God aan ons gewys het toe hy die hemele en aarde met 'n paar woorde geskape het. Ons het nou die outoriteit om dieselfde hier op aarde te doen.
Oordink die feit dat jou woorde buitengewone mag het. Jy beskik oor die mag om die lewens van almal te beïnvloed met wie jy jou wêreld deel … jou gesin, jou vriende, bure en die terloopse vreemdeling. Dit is jou keuse om woorde te gebruik wat ander bemoedig en opbou — of vernietig en afbreek. Onthou dat woorde wat eenmaal uitgespreek is, nie teruggetrek kan word nie.
Let op jou taal.
Kies woorde wat lewe gee!
Oordink:
Oorweeg die mag van al jou woorde: of hulle opbou en ophef of verpletter en vernietig. Hoe kan jy 'n doelbewuste poging aanwend om lewegewende woorde teenoor ander te gebruik?
Gebed:
O Here, help my om bewus te wees van elke woord wat uit my mond gaan. Leer my hoe om lewegewende waarhede tot die harte van ander uit te spreek.
Aangaande hierdie leesplan
Woorde, woorde, woorde, kragtige woorde! Woorde wat opbou of woorde wat afbreek. Woorde wat lewe gee of woorde wat die dood bring. Die keuse is ons s'n. Kom ons beoordeel die betekenisvolle mag wat ons woorde inhou.
More