Leesplan inligting

Woorde wat Lewe GeeVoorbeeld

Speaking Life

DAG 5 VAN 6

Woorde om Volgens te Leef 


Aangesien die vyand vir ons leuens vertel, moet ons 'n besluit neem om met krag en waarheid terug te praat! Ons moet besliste stappe doen om die stortvloed van negatiewe woorde en gedagtes te stuit. Ons benodig kragtige WOORDE OM VOLGENS TE LEEF. Dan moet ons hulle aanmekaar herhaal totdat hulle ons harte en gedagtes bereik het.


Die waarheid oor my is altyd wat God oor my sê … nie wat ek dink of voel en ander sê, dink of doen nie. Ons kan so verlam raak deur leuens en valse gelowe, dat ons die pragtige plan van die Here by verre misloop. Bestudeer sy Woord. Openbaar jou geloof en vra dan God se hulp met jou ongeloof. 


Ons moet almal tot 'n hernude toewyding kom om negatiewe selfgesprekke te staak. Net soos enige destruktiewe, slegte gewoonte, kan jy besluit om met hierdie gedrag op te hou. Dit mag dalk tyd, deursettingsvermoë, aandag en krag verg om negatiewe selfgesprekke heeltemal te beëindig, want dit is dikwels so diep gewortel, dat dit amper intuïtief plaasvind. Wanneer jy begin besef dat jy dit doen, moet jy insien dat jy jouself en jou gedagtes voortdurend moet onderbreek om 'n einde daaraan te maak. Om 'n bewustheid van hierdie gedrag te kweek, is die sleutel tot die beëindiging daarvan. 


Wanneer ons beheer neem oor ons gedagtes en woorde, neem ons ons lewens terug! Ek daag jou uit om 'n lys te maak van woorde van bekragtiging wat jy daagliks aan JOUSELF kan sê … woorde om volgens te leef. Hierdie oefening is 'n belangrike tree wat jy gee om beheer te neem oor jou gedagtes en daarna, jou woorde. Dit is tyd om te begin oefen om woorde van krag en waarheid weer in ons lewens terug te kry deur daaglikse bekragtigings neer te skryf.


Begin eerstens met enige oorheersende, negatiewe gedagtes of selfgesprekke waaraan jy dikwels dink. Maak 'n lys van al die leuens waarin jy glo. Watter negatiewe "waarhede" is vir jou 'n las en verhoed dat jy jou lewe ten beste kan leef? Indien ons gedagtes, selfgesprekke of woorde nie met God se waarheid in pas is nie, moet ons hulle identifiseer. 


Tweedens moet jy Skrifgedeeltes gaan soek wat as teenmiddels vir hierdie negatiewe gedagtes of leuens kan dien. Hierdie geestelike waarhede kan jou van daardie leuens, vestings of denkpatrone bevry. Neem jou gedagtes en woorde gevange deur sy waarhede! Kies woorde wat met die Woord van God in pas is.


Bestudeer laastens hierdie Skrifgedeeltes en skep positiewe stellings daaruit waarmee jy saamstem en waarop jy kan aanspraak maak om weer in jou lewe terug te kry. Hierdie is positiewe bekragtigings wat in pas is met die WAARHEID. Maak nou jou lysie. Watter bekragtigings kan jy gebruik om God se heerlikheid en beter resultate in jou lewe te bring?


Om hierdie bekragtigings daagliks uit te spreek, sal jou help om jou tong te beheer, en sodoende jou lewe beter te beheer. Weier om enigiets anders as die Woord van God oor jou lewe en omstandighede uit te spreek. Neem gesag oor jou lewe met Skrifgedeeltes en die krag van jou eie woorde van bekragtiging. Hierdie is WOORDE OM VOLGENS TE LEEF.


Oordink:


Watter gedagtes en leuens maal in jou kop wat nie met die Woord van God in pas is nie? Dink oor lewegewende woorde van waarheid wat jy kan kies om hierdie gedagtes mee te vervang.


Gebed:


Here, ek wil praat en lewe vanuit u waarhede oor my. Dikwels voel ek so vasgevang in negatiwiteit en asof ek die wêreld se laste op my skouers dra. Help my om na u lewegewende waarhede te soek en om daagliks daaroor na te dink.


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Speaking Life

Woorde, woorde, woorde, kragtige woorde! Woorde wat opbou of woorde wat afbreek. Woorde wat lewe gee of woorde wat die dood bring. Die keuse is ons s'n. Kom ons beoordeel die betekenisvolle mag wat ons woorde inhou.

Ons dank gaan aan Roxanne Parks wat hierdie plan voorsien het. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.roxanneparks.com/home.html

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid