Wysheid Uit Ou Testament Verhale Voorbeeld

Wisdom From Old Testament Stories

DAG 3 VAN 5

Gideon 

Vandag se verhaal kom ook uit die boek Rigters. Ons hou oor die algemeen daarvan dat die  buiteperde — die onwaarskynlike helde — wen. Dit is wat met Gideon teen die Midianiete gebeur het. 

Soos wat ons in Dag 2 gesien het, het die Israeliete in 'n vreeslike toksiese siklus geleef. Gideon was op daardie stadium Israel se rigter, en hulle was toe reeds vir die vorige sewe jaar deur die Midianiete onderdruk. Die Midianiete was so wreed teenoor die Israeliete dat hulle honger gely het. Dit was op hierdie tydstip dat hulle weereens na die Here uitgeroep het.

God het 'n profeet na sy mense gestuur en hulle berispe oor die aanbidding van valse en vreemde gode. Hierna het 'n engel van die Here aan Gideon verskyn en hom 'n "dapper man" genoem (Rigters 6:12). Gideon het duidelik verbaas vir God gevra waarom Hy hulle versaak het. 

Toe gee God vir Gideon opdrag om Israel uit die Midianiete se mag te red. Gideon twyfel verskeie kere in God. God sê aan hom dat Hy by hom sal wees, en hom sal bewaar. Uiteindelik beweeg Gideon vorentoe in die rol waartoe God hom geroep het. 

Gideon het 22000 manskappe gehad, maar God het gesê dat dit te veel was. Die 22000 manskappe is uiteindelik uitgedun tot 300 om teen 'n mag van duisende Midianiete te veg. Met daardie gehoorsaamheid, en deur staat te maak op God, het die Israeliete onder leiding van Gideon hul vyand oorwin. Ons kan 'n paar dinge uit hierdie verhaal leer:

God Veroorsaak Nie Al Die Gemors In Ons Lewens nie
Toe die Engel van die Here die eerste keer aan Gideon verskyn het, het Gideon getwyfel en Hom vir alle praktiese doeleindes daarvoor blameer dat Hy hulle versaak het. Ons kan duidelik sien dat hul eie aksies tot hulle onderdrukking en swaarkry gelei het. Hulle het gekies om "wat verkeerd is in die oë van die Here" te doen (Rigters 6:1). Dit sou dus wys wees vir ons almal om na ons eie keuses te kyk en te sien wat ons moet verander. Om God te blameer is nie die antwoord nie.

God Is Geduldig Wanneer Ons Twyfel
Gideon het bevraagteken waar God was, hy het bevraagteken of God hom gaan gebruik, hy het God vir twee tekens gevra wat kon bewys dat Hy regtig God was en hy het geargumenteer dat hy nie genoeg manskappe gehad het om die veldslag te wen nie. Selfs nadat God hom op twee afsonderlike geleenthede vertel het dat Hy die "Midianiete in sy mag sal oorgee," het Gideon steeds getwyfel. Tog het God elke keer geduldig en sagmoedig op sy twyfel en vrese geantwoord. God het nie opgegee op hom na een of 'n dosyn oomblikke van twyfel nie. Hy het Gideon se menslike probleem verstaan. God ken ons! Hy ken ons swakhede. Hy weet dat ons steeds bang word, selfs wanneer ons van Hom hoor. Hy weet dat ons nie sien wat Hy sien nie. Hy is só barmhartig en genadig!

God Se Krag Is Meer As Genoeg
God het 'n vreesbevange, nie-toegeruste, twyfelende man genaamd Gideon geneem en hom gelei om duisende Midianiete met 'n weermag van 300 man te verslaan. Sal Hy nie dieselfde vir ons doen nie? Ons mag dalk swak voel, maar met sy krag is dit onwaarskynlik dat ons sal misluk, ons gaan heel waarskynlik suksesvol wees! Ons leer in God se Woord dat Hy betroubaar is. Is enigiets te moeilik vir Hom?

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Wisdom From Old Testament Stories

Die Ou Testament kan soms verwarrend wees om te verstaan, maar dit is volgepak met verhale wat toepaslike wysheid bevat. In hierdie 5-dag leesplan, gaan ons dieper delf in verhale uit die Ou Testament — sommige meer bekend as ander — en tot nuwe insigte kom wat ons sal uitdaag en ons geloof sal uitbou.

More

Hierdie oorspronklike leesplan is deur YouVersion geskep en verskaf.