Wysheid Uit Ou Testament Verhale Voorbeeld

Wisdom From Old Testament Stories

DAG 1 VAN 5

Bileam se Donkie 

Die boek Numeri in die Ou Testament handel oor meer as net die hoeveelheid mense in die twaalf stamme van Israel en hulle nageslagte. In die 22ste hoofstuk is daar 'n weggesteekte verhaal oor 'n man en sy donkie. Hierdie insiggewende verhaal verloop soos volg:

Die Israeliete het in Moab inbeweeg, en omdat daar so baie van hulle was, was die Moabiete doodbang! Dus het Balak, die koning van Moab, 'n profeet genaamd Bileam laat roep. Balak het basies vir Bileam gevra om 'n vloek oor God se geliefde Israeliete uit te spreek. Bileam het geantwoord dat hy na hom sou terugkom met 'n antwoord nadat hy van God gehoor het. 

In die volgende vers het God inderwaarheid na Bileam toe gekom. Bileam het vir God vertel wat Balak wou hê hy moes doen, maar God het vir Bileam gesê om nie die Israeliete te vervloek nie. Bileam het die koning laat weet dat hy hulle nie sou vervloek nie. Die koning was nie hiermee ingenome nie, en probeer toe vir Bileam omkoop met enigiets wat hy sou wou hê. Bileam het egter nie aan die versoeking toegegee nie. Hy het wel die volgende dag saam met die koning se manskappe gegaan omdat God hom opdrag gegee het om dit te doen, maar hy moes vir God se leiding wag. 

Die volgende oggend het Bileam sy donkie opgesaal en saam met die Moabitiese amptenare vertrek. Net nadat hulle vertrek het, het 'n Engel van die Here in die pad gestaan, maar slegs die donkie kon hom sien. Die donkie het van vrees waansinnig opgetree, en dit het Bileam verwar omdat hy nie die Engel kon sien nie. Bileam was woedend en het die donkie drie keer geslaan! Dit was op daardie oomblik dat die mees onwaarskynlike ding gebeur het: die donkie het gepraat. 

"Toe sê die donkie vir Bileam: 'Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?' en Bileam antwoord: 'Nee!'"
Numeri 22:30

Dit was eers hierna dat Bileam die Engel van die Here kon sien wat uiteindelik sy lewe gered het. Ons kan 'n paar lesse uit hierdie verhaal oor 'n pratende donkie leer: 

God Gebruik Onwaarskynlike Mense
Ons weet maar min van Bileam. Die enigste kwalifikasies waarvan ons weet is dat hy God geken het (Numeri 22:8). Dit was al wat vir hierdie werk nodig was. Miskien voel jy as 'n ouer, eggenoot, besigheidseienaar of onderwyser asof jy nie die regte persoon vir die werk is waartoe God jou geroep het nie. As God jou daartoe geroep het, sal Hy jou daarvoor toerus. God gee meer om vir jou beskikbaarheid as jou vaardigheid. God kan baie meer met 'n beskikbare individu doen wat gewillig is, as met 'n vaardige individu wat nié is nie. 

God Gebruik Onwaarskynlike Omstandighede 
God het 'n donkie gebruik om 'n man se aandag te trek. Hy het nie net die donkie gebruik nie, maar het die donkie laat praat! Dit het Bileam se lewe gered. God wil jou, en watter situasies jy ook al deurgegaan het, gebruik. Dit mag dalk vir jou onmoontlik lyk dat Hy jou ervarings kan gebruik, maar Hy kán. Wy dit aan Hom, wat dit ook al is, en kyk wat Hy daarmee gaan doen. God het 'n donkie gebruik om 'n man te red en sy mense se lewens te spaar. Hy kan jou beslis gebruik.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Wisdom From Old Testament Stories

Die Ou Testament kan soms verwarrend wees om te verstaan, maar dit is volgepak met verhale wat toepaslike wysheid bevat. In hierdie 5-dag leesplan, gaan ons dieper in verhale uit die Ou Testament delf — sommige meer bekend as ander — en tot nuwe insigte kom wat ons sal uitdaag en ons geloof sal uitbou.

More

Hierdie oorspronklike leesplan is deur YouVersion geskep en verskaf.