Hoe is God? 'n 21-dag LeesplanVoorbeeld

What Is God Like? A 21-Day Reading Plan

DAG 17 VAN 21

God Is Oppermagtig

Ons verkies om op 'n oppermagtige God te vertrou, ongeag of ons die lotery wen of ons laaste R85 op 'n hamburger spandeer. Ons vertrou op God omdat Hy 'n goeie Vader is wat net goeie geskenke aan sy kinders wil gee. "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is" (Romeine 8:28).

God is bo alles verhewe en reël elke besonderheid van ons lewens, elke minuut van elke dag. Die wete dat God oppermagtig is, beteken dat ons Hom kan vertrou, ongeag ons omstandighede. John Piper het eenmaal gesê: "God is altyd aan die werk, gelyktydig besig met honderd-en-tien dinge ... Hy kan dalk vir ons een daarvan wys." 

Soms gee die Here ons 'n vlugtige blik op die geheelbeeld, sonder dat Hy dit hoef te doen. In Job 38 herinner God vir Job en sy vriende waarom Hy Homself nie aan hulle hoef te verduidelik nie. Hy vra in vers 4 aan hulle: "Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het.” In verse 12b en 13 vra Hy: "... Weet jy waar die daeraad vandaan kom, die daeraad wat lig oor die hele aarde bring ...?"  

Wanneer dit voel asof ons nie die waarheid vir onsself kan toe-eien nie, verklaar ons dit totdat kopkennis hartkennis word. God, wat sy Seun gestuur het om vir ons sonde te sterf, het die reg om op te tree soos Hy dit goeddink, want: "My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en ... so is my optrede verhewe bo julle optrede ..." (Jesaja 55:8-9). 

Hebreërs 11:1 praat só oor geloof: "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." Ons glo dat die Here se oppergesag heers en ons kies om in daardie waarheid te lewe.

Oordink die volgende:

  • Is dit vir jou maklik om God te vertrou om besluite oor jou lewe te neem? Hoekom of hoekom nie?
  • Is daar 'n area in jou lewe waar jy God se opperheerskappy bevraagteken? Watter belofte wat God in die Bybel maak, kan jy op daardie omstandigheid toepas? 
Dag 16Dag 18

Aangaande hierdie leesplan

What Is God Like? A 21-Day Reading Plan

Hoe is God? Dit is 'n groot vraag, maar 'n belangrike een. Wat ons van God verstaan, sal bepaal hoe ons onsself met Hom vereenselwig. Hoe meer ons van God weet, hoe beter sal ons verhouding met Hom wees. Regdeur die Bybel openbaar God wie Hy is. Elke naam van God vertel ons iets van Hom. Oordink God se karakter oor die volgende 21 dae en kyk hoe jou liefde vir Hom groei.

More

Ons wil graag NewSpring Church bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek: http://newspring.cc