Hoe is God? 'n 21-dag LeesplanVoorbeeld

What Is God Like? A 21-Day Reading Plan

DAG 16 VAN 21

God Is Ons Trooster

Die dokter kom met 'n hartseer gesig en 'n positiewe kanker diagnose ingestap. 'n Polisieman klop aan die deur met die nuus wat geen ouer ooit wil hoor nie. Die persoon wat belowe het om altyd by ons te wees, verlaat ons. Toekomsplanne word deur 'n afwysingsbrief verpletter.

Ons het almal soms vertroosting nodig. Daar is oral pyn, hartseer en tragedie en geen fisieke wyse waarop ons dit kan ontvlug nie. Ons is egter nie vasgevang of gedoem om vir die volgende hou te wag nie, want ons dien 'n God wat die Vader van alle ontferming en vertroosting is.

In 2 Korintiërs 1:3-4 praat Paulus — vanuit sy eie tragiese ervarings — oor die krag van God se ontferming. Paulus was gewoond aan swaarkry. Die ontsaglike lyding wat hy ervaar het, moes hom breekpunt laat bereik het. Hy het egter geweet waarheen hy in moeilike tye moet gaan en getuig dikwels van God se getrouheid en die werklikheid van die troos wat daar in God se arms is. 

Paulus se lewe was nie net 'n toonbeeld van die ervaring van bonatuurlike vertroosting nie, maar ook hoe daardie selfde vertroosting weer aan andere oorgedra kan word. Paulus het sy lewe daaraan gewy om die evangelie met ander te deel. Hy was 'n verstommende bron van bemoediging vir Christene regoor die wêreld ten spyte van sy eie omstandighede. Paulus was egter nie 'n groot held nie. Die impak van sy bediening was 'n direkte uitvloeisel van die Heilige Gees se werking in hom. Paulus het aan God vasgehou en die liefdevolle vertroosting wat hy ontvang het, was meer as genoeg, sodat hy dit ook met ander kon deel.

Daar is geen einde aan God se vertroosting en ontferming nie. Sy begeerte en vermoë om sy arms om ons te vou, word nie deur omstandighede beperk nie. God wil ons beskerming en krag wees selfs al is ons swaarkry as gevolg van ander se optrede, ons eie dwase besluite of net toevallig. 

Ons het ook, net soos Paulus, die Heilige Gees in ons. Dit beteken ons het toegang tot die ontvangs en uitdeel van onbeperkte vertroosting aan ander. 

Oordink die volgende:

  • Hoe reageer jy gewoonlik gedurende moeilike omstandighede? 
  • Waar het jy al God se vertroosting in jou eie lewe gesien?
  • Ken jy iemand wat die soort vertroosting nodig het wat net God kan gee? Hoe sou dit wees om aan daardie persoon die vertroosting te gee op die wyse wat God jou in die verlede getroos het? 
Dag 15Dag 17

Aangaande hierdie leesplan

What Is God Like? A 21-Day Reading Plan

Hoe is God? Dit is 'n groot vraag, maar 'n belangrike een. Wat ons van God verstaan, sal bepaal hoe ons onsself met Hom vereenselwig. Hoe meer ons van God weet, hoe beter sal ons verhouding met Hom wees. Regdeur die Bybel openbaar God wie Hy is. Elke naam van God vertel ons iets van Hom. Oordink God se karakter oor die volgende 21 dae en kyk hoe jou liefde vir Hom groei.

More

Ons wil graag NewSpring Church bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek: http://newspring.cc