Die Terugkeer: Dit Is Nie Te Laat Nie En Jy Is Nooit Te Ver NieVoorbeeld
Staan Op
* Kyk na hierdie video met Afrikaanse onderskrifte deur "Watch on YouTube" te klik, dan op "YouTube Settings, Subtitles" en kies Afrikaans.
Alle begrafnisse is somber. Die een waarvan ons in Lukas 7:11-16 lees, was veral ontstellend. Die Skrif sê dat die man wat so pas gesterf het, die enigste seun van 'n weduwee was. As jy in daardie dae 'n weduwee was, was jy basies bankrot. Volgens wet kon jy nie eiendom of 'n besigheid besit nie. Jy was afhanklik van familie, meer spesifiek, van jou seun — as jy gelukkig was om een te hê. As jy nie 'n seun gehad het nie of as hy alreeds gesterf het, was jy bestem vir armoede en verslaentheid.
Dit is wat hierdie weduwee in die gesig gestaar het. Haar man het gesterf, en nou het haar enigste seun ook gesterf. Haar hart was gebroke en sy het 'n somber toekoms gehad — tot Jesus tot die situasie toegetree het.
Hy het onmiddellik iets aan die desperate situasie gedoen. Hy het na die draagbaar gestap en dit teruggehou, sodat die draers stil gaan staan het. Die begrafnisstoet het dadelik tot stilstand gekom. Dit is tóé dat Jesus met 'n dooie man gepraat het en hom beveel het om op te staan. Dit het alles so vinnig gebeur. Die Skrif beskryf hoe die dooie man opgestaan en begin praat het. Jesus het hom vir sy ma teruggegee.
Ek hou daarvan dat juis daar 'n uitroepteken in die Bybel is. "Staan op!" Jesus het met sy krag en gesag tussenbeide getree en beveel dat dit wat dood was weer lewend word. Jesus het nie net gehoop dat iets goeds sou gebeur nie. Hy het aan die dood 'n bevel gegee. "Dood, jy het nie die krag hier nie. Ek het die krag. Jy sal gehoorsaam wees!"
Onmiddellik het die jongman regop gesit. Kan jy jou dit voorstel? Die grafkleed het losgekom, en hy het die bedekkings van sy oë verwyder. Dit was soos 'n zombie rolprent, behalwe dat hierdie man nie 'n lid van die lewende dooies was nie. Hy was heeltemal lewendig, volkome herstel en weer gesond.
Dieselfde woord wat Jesus aan die jongman gesê het sê Hy nou vir jou: "Staan op!" Alhoewel die vyand jou wil begrawe, het Jesus die gewoonte om begrafnisse te onderbreek. Hy het die een in Nain en verskeie ander tydens sy bediening onderbreek, en hy kan joune onderbreek met die bedoeling en krag van die Een wat die dooies opwek.
Die boodskap van die evangelie is dat Jesus daarvan hou om begrafnisse te onderbreek. In Jesus se hande verander begrafnisse in vieringe van aanbidding. Hy gryp jou draagbaar vas en vertel jou om weer te lewe. God wil jou lewe aanraak en jou lewe gebruik om hoop vir jou geslag te laat opvlam. Dit is tyd vir Jesus om sy lig van waarheid, genade, barmhartigheid en genesing op jou te laat skyn. Dis tyd dat jy van jou draagbaar afklim en terugstap stad toe.
Dit mag wees dat die mense wat jou goed geken het, jou sal aanstaar en uitroep: "Wat het met jou gebeur?" omdat hulle dit nie kan glo nie. Hulle het geweet dat jy op pad na die begraafplaas was. Jesus se boodskap is egter dat daar nie vandag 'n begrafnis sal wees nie. Hy is die God van die terugkeer. Laat Hy jou aanraak, jou genees en jou lewe omdraai.
Reageer
Wat openbaar die verhaal van die weduwee van Nain oor die vyand se planne vir ons? Wat openbaar dit oor Jesus se planne vir ons?
Hoe kan jy jouself in hierdie verhaal sien? Hoe het Jesus jou van die dood gered?
Wat doen Jesus nou om jou van die pad van verwoesting weg te lei?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan sluit sewe daaglikse oordenkings in wat gebaseer is op Louie Giglio se boek "The Comeback: It’s Not Too Late and You’re Never Too Far". Elke oordenking is gebaseer op voorbeelde van mans en vrouens in die Bybel, en wys dat dit God se begeerte is om 'n nuwe begin aan mense te gee wat 'n terugkoms nodig het.
More