Die Terugkeer: Dit Is Nie Te Laat Nie En Jy Is Nooit Te Ver NieVoorbeeld
Wanneer Drome Verpletter Word
* Kyk na hierdie video met Afrikaanse onderskrifte deur "Watch on YouTube" te klik, dan op "YouTube Settings, Subtitles" en kies Afrikaans.
Hoe vereenselwig ons onsself met 'n man soos Josef? Hy is in 'n put gegooi, in slawerny verkoop, verraai, gevange geneem, vergeet. Sy verhaal is egter nader aan ons verhaal as wat ons dalk met die eerste oogopslag mag dink.
Was jy al ooit alleen gelaat? Agtergelaat? Uitverkoop? Het jy alle hoop verloor? Is jy al ooit in die rug gesteek? Miskien het jy net dinge agtermekaar gekry, voor jou lewe skielik 'n afwaartse spiraal geneem het. Dit is verstommend wat Josef alles deurgemaak het en tog die insig gehad het om te verstaan dat God die hele tyd aan die werk was.
Dit is die breër prentjie van Josef se verhaal. Selfs nadat hy 'n tweede keer sy lewe agtermekaar gekry het, is die mat weereens onder hom uitgeruk. Kan jy jou vereenselwig met die gevoel dat ander vooruit beweeg en jy net verder agterraak? Dit is presies waar Josef was, maar hy het nooit die werk van God uit die oog verloor nie.
Ons kan ten minste vyf beginsels uit Josef se ervaring haal. Eerstens het Josef verstaan dat die oorhoofse doel van sy lewe was om in 'n klein deeltjie van God se groter plan vir die wêreld in te pas. Josef het geweet die doel van sy lewe was groter as om net sy eie droom uit te leef, selfs al was dit 'n Godgegewe droom. Hy het geweet dat hy op die aarde was om deel te wees van God se verhaal.
Tweedens het Josef geweet dat God tot aan die einde met hom sou wees. God was saam met hom toe hy aan die handelaars verkoop is, by die veiling, in Potifar se hof en in die tronk. Hy was by Josef toe hy in die farao se hof was, deur jare van oorvloed en in die maer jare, en toe sy broers teruggekeer het. God was die hele tyd saam met hom.
Derdens het Josef geweet dat hy slegs sy allerbeste aan God moes bied. Josef kon seker sy plig as dienskneg halfhartig gedoen het. Hy kon om elke hoek en draai afskeepwerk gedoen het, maar Josef het besef dat God die hele tyd langs hom was; dus wou hy in elke situasie sy beste doen.
Vierdens het Josef verstaan dat terugkeer nie oor terugbetaling gaan nie. Hy het aan sy broers gesê dat God in beheer van sy lewe is, nie hulle nie. Hy het nie gesê dat al die gevolge van hul optrede verdwyn het nie, maar hy het hulle vergewe, omdat hy besef het dat hy deel van God se verhaal was.
Laastens het Josef erken dat hy deel was van 'n verlossingsverhaal. Josef het gesê: "Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red" (Genesis 45:5). Gryp hierdie uitdrukking aan: om lewens te red. Dit is bonatuurlik, ek-is-in-'n-groter-God-verhaal soort denke. Dié soort denke sê dat dit my taak is om elke dag my lewe in God se hande te plaas, en God se "taak" is om elke dag my omstandighede tot sy verheerliking te gebruik.
Josef leer ons dat ons stryd altyd tot iemand se verlossing sal lei. Dit beteken nie dat ons moet sê: "Gee my meer stryd sodat meer mense saligheid sal verkry nie." Nie een van ons is gretig om in daardie stryd betrokke te raak nie. Wanneer die stryd egter na ons toe kom, weet ons dat God 'n groot doel in gedagte het.
Reageer
Josef het van dromer, na slaaf, na gevangene gegaan. Hoe vereenselwig jy jou met sy verhaal?
Hoe dink jy het Josef gevoel toe hy in die tronk was en dinge gelyk het of dit uitmekaar val? Hoe hanteer jy dit wanneer dinge in jou lewe uitmekaar val?
Wat dink jy het Josef in staat gestel om nooit die feit uit die oog te verloor dat God aan sy verhaal werk nie? Hoe het sy omstandighede hom gevorm vir die werk wat God wou hê hy moes doen?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan sluit sewe daaglikse oordenkings in wat gebaseer is op Louie Giglio se boek "The Comeback: It’s Not Too Late and You’re Never Too Far". Elke oordenking is gebaseer op voorbeelde van mans en vrouens in die Bybel, en wys dat dit God se begeerte is om 'n nuwe begin aan mense te gee wat 'n terugkoms nodig het.
More