Die Terugkeer: Dit Is Nie Te Laat Nie En Jy Is Nooit Te Ver NieVoorbeeld
Dis Nooit Te Laat Nie
* Kyk na hierdie video met Afrikaanse onderskrifte deur "Watch on YouTube" te klik, dan op "YouTube Settings, Subtitles" en kies Afrikaans.
Simson is deur God uitverkies om iets merkwaardigs vir sy volk te doen; twee groot dinge was vir hom bestem: (1) 'n groot lewensroeping (2) ongelooflike krag. Met hierdie potensiaal het Simson wonderlike dinge gedoen. Hy het 'n leeu met sy kaal hande doodgemaak. Hy het man-alleen, dertig manne doodgemaak. Hoeveel mense ken jy wat dit kan doen en as die wenner wegstap?
Daar was egter iets omtrent Simson wat hom keer op keer gepootjie het. Benewens sy ongewone krag en roeping van God, het 'n groot innerlike stryd in die man gewoed — 'n stryd ten opsigte van vroue. Uiterlik was God se guns op Simson en God het hom nog steeds gebruik, maar innerlik het 'n orkaan gewoed.
Hierdie innerlike orkaan het hom uiteindelik in die arms van Delila laat beland, wat hom aan Israel se vyand, die Filistyne, verraai het. Simson het ineengestort. Hy is deur God geroep en vanaf sy geboorte afgesonder om sy volk te lei in 'n tyd van groot nood, maar aan die einde van sy lewe was Simson blind, 'n gevangene, en het hy die Filistyne se graanmeule gedraai. Die innerlike dryfveer wat hom keer op keer tot ongeoorloofde verhoudings met vroue gedryf het, het hom uiteindelik gebreek.
Die gevolge van sonde was vir Simson 'n werklikheid. Hy was blind en gedoem om 'n slaaf te wees. Tog, God is altyd groter as enige gevolge. Die verhaal van God se verlossing is vir almal wat hulle vertroue vir hul lewens en verlossing in Jesus stel. Die Satan kan ons platslaan, maar ons sal opstaan. Die Satan gaan inderwaarheid uiteindelik en vir ewig neergewerp word.
Simson se verhaal eindig in Dagon se tempel. Daar het die voormalige rigter van Israel gesê: “... Laat my so staan dat ek die pilare kan voel waarop die tempel rus en dat ek daarteen kan leun” (Rigters 16:26).
Die tempel was volgepak, en daar was nog drieduisend toeskouers op die dak tydens hierdie groot gebeurtenis. Ja, vir Simson het die situasie buite beheer geraak. Hy het God se roeping op sy lewe laat vaar en moes die gevolge in die gesig staar, maar hy het erken dat God nog steeds oppermagtig was en iets wonderliks van sy lewe kon maak.
In Dagon se tempel het Simson gebid. Wat 'n gebed was dit nie! "... Here, my God, dink tog aan my ..." (Rigters 16:28). Is dit nie presies wat die dief aan die kruis gebid het in sy verhaal van terugkeer nie? "Dink aan my."
Met Simson se laaste asemteug het God se krag na hom teruggekom. Die verlossing van die hele Israel het begin die dag toe Simson sy finale terugkeer gemaak het. Wat hy nie in sy leeftyd gedoen het nie, het hy met sy dood gedoen, want ons God is die God van die terugkeer.
Dit is die les vir ons. Dit is nooit te laat nie. Ons is nooit te ver weg nie. Ons het nie te ver afgedwaal nie. God is altyd goed, en Hy onthou ons altyd. Ons gebed is nie om wraak te neem op 'n groep mense nie, maar dit is om weereens versterk te word, sodat ons tot God se verheerliking kan lewe. Ons druk met al ons krag teen die klippilare wat ons vasgebind hou. Met die krag van God wat in ons vernuwe word, stort die mure van ons gevangenis ineen.
Reageer
Wat het in Simson se pad gestaan wat verhoed het dat al die dinge wat God vir hom beplan het, tot vervulling kon kom? Hoe het Simson geleidelik toegelaat dat versoeking hom vernietig het?
Hoe gebruik die vyand versoekings om ons verder en verder op die verkeerde pad te neem? Hoekom is dit so 'n effektiewe taktiek?
Wat was Simson se oorweldigende terugkeer? Wat openbaar sy verhaal van God se genade en barmhartigheid ten spyte van ons foute?
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan sluit sewe daaglikse oordenkings in wat gebaseer is op Louie Giglio se boek "The Comeback: It’s Not Too Late and You’re Never Too Far". Elke oordenking is gebaseer op voorbeelde van mans en vrouens in die Bybel, en wys dat dit God se begeerte is om 'n nuwe begin aan mense te gee wat 'n terugkoms nodig het.
More