Die Terugkeer: Dit Is Nie Te Laat Nie En Jy Is Nooit Te Ver NieVoorbeeld
![The Comeback: It's Not Too Late And You're Never Too Far](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F1942%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Ons Storie
* Kyk na hierdie video met Afrikaanse onderskrifte deur "Watch on YouTube" te klik, dan op "YouTube Settings, Subtitles" en kies Afrikaans.
Die grootste terugkeer het plaasgevind toe Jesus uit die graf opgewek is tot die ewige lewe. Nou kan ons die krag van God vier wat ons selfs van die rand van die dood af kan terugbring. Dit is 'n dieper soort terugkeer wat God aan almal bied. Dink net aan die verhaal in die Bybel van Moses se merkwaardige terugkeer.
Wanneer ons Moses ontmoet, is hy 'n man met 'n woede probleem. Eendag het hy gesien hoe 'n Egiptenaar 'n Hebreeuse slaaf slaan. Hy maak toe die Egiptenaar dood en begrawe hom in die sand. Moses het sake in sy eie hande geneem, op die enigste manier wat hy geken het. 'n Misdaad bly egter 'n misdaad, en Moses moes, as gevolg van daardie misdaad, vlug uit die huis van die farao, waar hy grootgeword het.
Moses is na die woestyn verban, waar hy vir jare lank net skape opgepas het. Op 'n tyd wanneer baie mense oor die laaste hoofstukke van hul lewe hier op hierdie aarde sou besin, het God egter met Moses uit 'n brandende doringbos gepraat en hom tot 'n posisie van leierskap geroep. God het gesê: "...Ek stuur jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry."
Moses het 'n groot terugkeer-verhaal gehad ten spyte van sy woede en mislukte geleenthede. Hy het egter ook 'n spraakgebrek en min selfvertroue gehad en nie gedink dat hy iets nuttigs vir God kon doen nie. Hy het egter saam met sy broer, Aäron, na die farao gegaan en hom beveel om die volk van God te laat gaan. Uiteindelik het die farao dit toegestaan en die hele volk het 'n terugkeer-verhaal beleef.
Moses het daarna 'n paar maal teruggeval en was ongehoorsaam aan God. As gevolg daarvan het God hom nie toegelaat om die beloofde land in te gaan nie. In die Nuwe Testament is daar egter 'n verhaal waar Jesus saam met twee van sy dissipels teen 'n berg opgeklim het. Daar het iets bonatuurliks gebeur. Jesus se klere het glansend wit geword en sy gesig het soos die son begin straal. Langs Jesus het twee ander ook skielik verskyn, en een van hulle was Moses, in sy mees kragtige terugkeer ooit. Deur God se genade is daar 'n terugkeer vir mense wat alreeds voorheen 'n terugkeer gehad het en dit weer eens nodig het.
Ons kan oor baie soortgelyke verhale gesels. Trouens, die hele verhaal van die mensdom is 'n verhaal van mense wat gestruikel en geval het, maar op die een of ander manier in hierdie oseaan van God se genade en barmhartigheid, bied Hy 'n terugkeer vir enigiemand wat hul geloof en hoop in Jesus plaas. Op die ou end vind ons dat, ongeag waardeur ons gaan, kan ons daarop vertrou dat Jesus die God van die terugkeer is en dat ons verhaal nie klaar is solank Jesus daarin is nie.
Almal het 'n terugkeer nodig, en 'n terugkeer word vir almal aangebied. Dit maak nie saak wat ons struikelblokke is nie, watter foute ons gemaak het nie, of ons in 'n seisoen van dwaling of duisternis is nie. God se doel en plan sal steeds van krag wees.
Reageer
Wat staan vir jou uit oor Moses se terugkeer-verhaal in die Bybel?
Net soos Moses, mag ons voel dat ons op pad na nêrens is, of ons het te veel verkeerde dinge gedoen en daar is geen manier terug nie. Hoe kan ons weet dat God ons altyd sien waar ons is?
Op watter maniere het jy gesien hoe God iemand se verhaal weer laat begin?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
![The Comeback: It's Not Too Late And You're Never Too Far](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F1942%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Hierdie leesplan sluit sewe daaglikse oordenkings in wat gebaseer is op Louie Giglio se boek "The Comeback: It’s Not Too Late and You’re Never Too Far". Elke oordenking is gebaseer op voorbeelde van mans en vrouens in die Bybel, en wys dat dit God se begeerte is om 'n nuwe begin aan mense te gee wat 'n terugkoms nodig het.
More