Vryheid van SondeVoorbeeld
Vergewe en Vry
Die Aanklaer sê: “Voel skuldig en veroordeel vanweë al die goed wat die Allerhoogste al vir jou moes doen.” Weier volstrek om na hom te luister, want hoe meer jy luister, hoe meer gaan hy sê. — Beth Moore
Ongeag wat jy in die verlede gehoor het, wil ons seker maak dat jy die waarheid in jou hede en in jou toekoms hoor. Daar is geen sonde wat jy kan pleeg wat nie deur ons goeie God vergewe kan word nie. Niks nie.
Die diep, donker geheim van wat jy gedoen het? Vergeefbaar.
Die persoon wat jy verraai het? Vergeefbaar.
Die haatspraak wat jy geuiter het? Vergeefbaar.
Jy mag dalk aan iets dink wat kan veroorsaak dat jy jouself haat. Ons het almal sulke oomblikke. Bely dit eenvoudig net, ontvang vergifnis, en leef vry. Dit is regtig so eenvoudig. Eintlik is dit so eenvoudig soos hierdie gebed:
Hemelse Vader, ek weet dat ________________ verkeerd was. Vergewe asseblief my sonde. Help my om weg te draai van my sonde af en in die vryheid te wandel wat U my bied.
Baie mense vind dit moeilik om hulself te vergewe. Dit kan wees dat mense in ons lewens aanhou om ons daaraan te herinner, want hulle het ons nog nie vergewe nie. Daar is nie veel wat ons kan doen wanneer iemand ons nie wil vergewe vir die pyn wat ons hulle veroorsaak het nie. Ons kan net doen wat ons kan en bid dat hulle harte sag sal word.
Ons moet ook nie vergeet dat ons geestesvyand ons aanval met pyle wat basies twyfel is nie. Hy fluister: “Het God jou regtig vergewe?” Met daardie vraag vul twyfel en bekommernis jou gedagtes, want die laaste ding wat hy wil hê is dat jy voel jy is vergewe en vry. Jy ís egter vergewe en vry.
God het jou vergewe vir jou sondes van die verlede, en Hy sal jou vir jou toekomstige sondes vergewe. Vertrou daarop. Jesus het voor jou uitgegaan. Sy dood het alle sondes bedek en dit beteken al joune — almal se sondes. Sy offerdaad aan die kruis het hierdie saak afgehandel. As 'n navolger van Christus het jy vergifnis van sondes, oorvloedige lewe op aarde, en die ewige lewe in die hemel as gevolg van wat Jesus aan die kruis vir jou gedoen het. Hy is jou advokaat. Eis die waarheid van God op soos in 1 Johannes 1:9 — "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid."
Alles beteken regtig alles.
Bepeins
- Is jy geneig om jouself oor jou sondes van die verlede te kasty? Wat weerhou jou daarvan om God se vergifnis te aanvaar?
- Skryf een ding neer waarvoor jy God om vergifnis gevra het, maar waaraan jy steeds vasklou. Stap vandag weg in vryheid. Vertrou die Woord van God in Psalm 103:12 wat sê Hy het jou sondes verwyder “so ver as die ooste van die weste af is ...”
Aangaande hierdie leesplan
Almal maak foute. Die meeste mense hou egter nie daarvan om hul foute "sondes" te noem nie, selfs al is dit presies wat dit is. In hierdie leesplan gaan ons leer wat sonde is, hoekom ons dit doen, en hoe ons kan kies om anders te leef. Ons kan vasstaan in die hoop dat, ongeag wat ons ook al in ons lewens gedoen het, is daar geen sonde wat God nie sal vergewe nie.
More