Vryheid van SondeVoorbeeld
Om Sonde te Vergelyk
Moenie iemand veroordeel net omdat hulle anders as jy sondig nie. — Anoniem
Ons het die betekenis van sonde aangeraak, hoekom ons dit doen, en hoe om die kringloop van sonde te breek. Vandag se onderwerp gaan ons sekerlik uitdaag, want die meeste mense is geneig om hul sondes met dié van ander te vergelyk.
Kom ons neem jok as 'n voorbeeld. Almal het al op een of ander stadium in hul lewens leuens vertel. Sommige leuens kom voor as baie groot en grens aan verraad, terwyl ander weer aan die “nietige” kant is. Ons dink ons klein leuentjie, wat niemand affekteer nie, is 'n nietigheid. Die persoon wat egter sy huweliksmaat bedrieg het, wel, dis 'n baie groot leuen. Ons dink ook ewe selfvoldaan: “Ek is bly ek is nie soos sy of hy nie.”
Hierdie ingesteldheid is verkeerd en glad nie Bybels nie. Ons lees in Romeine 3:23: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie ..." In werklikheid het ons almal die kol gemis. Ongeag of ons dit skrams of ver gemis het, dit staan nie 'n kans teen God se volmaaktheid nie.
Hierdie openbaring is nie om ons te beskaam nie — dit is juis om ons te bevry! Vry van die strik om om ons na ander te kyk en te dink ons is beter as hulle. As ons onsself gedurig met ander vergelyk, sal die standaard altyd 'n bewegende teiken wees. Vergeleke met iemand anders se doen en late, mag ons party dae soos die beste mens op die aarde voel, terwyl ons op ander dae weer mismoedig voel omdat iemand anders beter keuses as ons uitoefen.
Die standaard, of kol, waarteen ons onsself moet meet, is God se volmaaktheid. Wanneer ons strewe om Hom te volg en Hom met ons hele wesens te gehoorsaam, sal ons al nader aan sy standaard beweeg. Dit is 'n lewenslange strewe vir elke navolger van Christus. Wanneer ons ons oë op Jesus gerig hou, sal ons 'n beter kans staan om onsself te verbeter in plaas daarvan om na ander om ons te kyk.
Om te strewe om God te volg en aan Hom gehoorsaam te wees, beteken nie om meer van sy liefde te probeer verdien nie. God se liefde is alreeds vir Christus se navolger verseker. Daar is niks wat ons kan doen wat Hom sal oorreed om ons meer lief te hê as wat Hy ons reeds liefhet nie. Tog, die keuse om Hom te eer en te volg, selfs wanneer dit moeilik is, sal lei tot die oorvloedige lewe wat Hy aan ons belowe het terwyl ons op hierdie aarde woon.
Bepeins
- Vind jy dat jy jou sonde met dié van ander vergelyk? Hoekom of hoekom nie?
- Dink aan 'n sonde wat jy gedoen het of gereeld doen, wat klein is in vergelyking met die "groot" sondes van ander mense. Bely dit voor God en vra sy hulp om op jou eie lewe te fokus in plaas van ander s'n.
Aangaande hierdie leesplan
Almal maak foute. Die meeste mense hou egter nie daarvan om hul foute "sondes" te noem nie, selfs al is dit presies wat dit is. In hierdie leesplan gaan ons leer wat sonde is, hoekom ons dit doen, en hoe ons kan kies om anders te leef. Ons kan vasstaan in die hoop dat, ongeag wat ons ook al in ons lewens gedoen het, is daar geen sonde wat God nie sal vergewe nie.
More