Vryheid van SondeVoorbeeld

Freedom From Sin

DAG 2 VAN 5

Hoekom Ons Sondig En Hoe Ons Verander

Alhoewel sonde dikwels onmiddellike plesier verskaf, bring dit geen blywende vreugde nie. — R.C. Sproul

Sal dit nie wonderlik wees as ons nie meer sondig nie? Ons almal doen dinge wat ons nie moet doen nie, maar ons hoef nie deur sonde gebonde te lewe nie. Voordat ons leer hoe om verandering in ons lewens teweeg te bring, moet ons eers verstaan hoekom ons aanhou sondig. 

Hoekom hou ons aan sondig?
'n Deel van die antwoord het ons op dag een bespreek. Alle mense word met 'n sondige geaardheid gebore. Ons vlees is sterk, selfsugtig en begerig om te kry wat dit wil hê. Ons is vatbaar vir versoeking en die kans is groot dat ons dan sal sondig. Ons het begeertes en drange wat gevoed wil word. Dus, wanneer versoekings kom, vind ons vlees dit baie moeilik om nee te sê, want dit is swak. Die apostel Paulus skryf dat hy nie verstaan hoekom hy doen wat hy doen nie — dat hy letterlik die dinge haat wat hy gedoen het — maar dat hy hulle aanhou doen. Wat van die dinge wat hy wou doen? Hy het dit nie gedoen nie! 

In sulke oomblikke van swakheid is ons geestelike vyand altyd naby. Hy probeer altyd om ons te oortuig dat wat ons doen, heel aanvaarbaar is. Hiervan kan jy seker wees, wanneer hy praat, borrel die leuens uit. Selfs met die vyand se invloed op ons, is dit onwys om die blaam vir ons keuses op hom en sy bose magte te plaas. Dit ís so dat ons in 'n wêreld van geestelike stryd lewe, maar hy is nie sterker as ons nie. Met God in ons, het ons die krag om enige versoeking of mag wat teen ons opstaan, te oorwin. 

Hoe hou ons op sondig?
Die goeie nuus is dat hierdie 'n area is waarin ons kan verbeter en nie toelaat dat sonde ons gyselaar hou nie. Ons moet dinge kies wat ons sterk sal maak om sodoende die versoekings te weerstaan en geestelike gevegte te wen. Ons moet die tipes situasies beoordeel waarin ons onsself plaas. Ons moet let op die mense met wie ons die meeste tyd deurbring, en erken dat die dinge waarna ons kyk en luister ons ook beïnvloed. Is dit moontlik dat die situasies en mense in ons lewens bydra tot die swak keuses wat ons op die sondige weg plaas? Ons moet baie eerlik met onsself wees as ons vryheid wil vind.

Hoe meer ons ja sê vir die dinge van God, hoe minder sal ons voor die sonde swig. Ons sal nooit volmaak wees nie, maar ons kan keuses uitoefen en God vertrou om ons te dra deur die moeilike omstandighede waarin ons onsself bevind. Hy waarborg sy krag vir ons in alles. Kom ons aanvaar die aanbod van daardie belofte.

Bepeins

  • Dink aan daardie sonde wat jy van dag een af gelys het. Wanneer bevind jy jouself voor hierdie keuse? Wie of wat is by jou? Watter stap kan jy neem om hiervan vry te word?
Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Freedom From Sin

Almal maak foute. Die meeste mense hou egter nie daarvan om hul foute "sondes" te noem nie, selfs al is dit presies wat dit is. In hierdie leesplan gaan ons leer wat sonde is, hoekom ons dit doen, en hoe ons kan kies om anders te leef. Ons kan vasstaan in die hoop dat, ongeag wat ons ook al in ons lewens gedoen het, is daar geen sonde wat God nie sal vergewe nie.

More

Hierdie oorspronklike leesplan is deur YouVersion geskep en verskaf.