God By OnsVoorbeeld
Herder
Die titel herder het 'n baie spesifieke betekenis gehad vir die Joodse volk van daardie tyd, maar ons kan baie maklik ligtelik na hierdie verwysing kyk en sodoende die grootheid van wat God oor Jesus se eienskappe sê, heeltemal mis.
Die tradisionele rol van 'n herder was alles behalwe bekoorlik. In werklikheid was dit baie moeilik, veeleisend en gevaarlik, dit het totale toegewydheid aan die welstand van sy kudde vereis. Hy het hulle na voedsel en beskutting gelei, elke aand rekenskap van elkeen gegee en die verdwaaldes gaan soek en teruggebring. Hy het hulle selfs beskerm teen diewe en roofdiere ten koste van sy eie veiligheid.
Net soos skape geen instink vir voedsel het nie, geneig is om weg te dwaal, te verdwaal en moeilik hul tuiste vind, is ons ook doelloos sonder 'n herder. In Jesus vind ons die voorsiening, beskerming en leiding wat ons so broodnodig het.
Regdeur die Nuwe Testament word ons herinner aan Jesus se rol as die Goeie Herder. Die gelykenis van die verlore skaap, waar die herder die nege en negentig laat staan en na een verlore skaap gaan soek, skets vir ons 'n pragtige prentjie van God se hart vir die verlorenes en sy toegewydheid om ons veilig tuis te bring.
In Filippense herinner die apostel Paulus ons daaraan dat God, deur Jesus, sal voorsien in al ons behoeftes, net soos 'n herder omsien na al die behoeftes van sy kudde. Net so praat Jesus in Lukas 13 van sy diepe begeerte om sy kinders te beskerm, as ons Hom maar net wil volg.
In Johannes 10:27-30 (NLV) sê Jesus:
"My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My. Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie. Ek en die Vader is één."
Wat 'n Goeie Herder, inderdaad!
Terwyl ons Kersfees nader, onthou dat Jesus ons Goeie Herder is en in Hom vind ons voorsiening, ewige lewe en die belofte dat niemand ons uit die veiligheid van sy sorg kan ruk nie. Net soos 'n herder nie vir sy kudde van 'n afstand af kan sorg nie, so is Jesus ook altyd aan ons sy. Kom ons luister vir sy stem, wees vol vertroue dat Hy naby is en dat Hy ons na groen weivelde lei.
Gebed: Vader, dankie dat U so 'n pragtige prentjie skilder van Jesus as my Goeie Herder en dat U voorsien in al my behoeftes deur Hom. Skenk my ore om u stem duidelik te kan hoor en die vrymoedigheid om te volg waarheen U my ook al roep. Ek vertrou dat U slegs goeie dinge in gedagte het vir my en dat ek nooit buite u versorging sal wees nie.
Aangaande hierdie leesplan
Kersfees is 'n tyd van groot vreugde, wat die geboorte van Jesus, ons Verlosser aankondig. Daar is verskeie profesieë regdeur die Bybel wat handel oor die koms van Jesus en in hierdie leesplan gaan ons na sewe name kyk wat God in die Skrif gebruik om sy koms aan te kondig. Ons gaan ontdek hoe Jesus aan elkeen gestalte gee en dat hulle vandag nog steeds so toepaslik is as toe Hy op die aarde gewandel het.
More