God By OnsVoorbeeld
Ewige Vader
Alhoewel ons almal verskillende ervarings met ons aardse vaders het, weet ons dat geen verhouding perfek is nie. Of die naam "vader" nou gelukkige herinneringe bring en of dit ons beswaard maak, weet ons dat ons 'n groot geskenk in Jesus, ons volmaakte, Ewige Vader het.
Deur Jesus se lewe, dood en opstanding is ons geseënd met direkte toegang tot God. Wanneer ons Jesus volg, word ons aangeneem in God se familie en as sy kinders geniet ons al die voordele van 'n lewe in sy sorg.
Jesus het een van daardie voordele uitgelig in die gelykenis van die verlore seun, deur te wys hoe groot die liefde van God vir sy kinders is — Hy gee nooit moed op met ons nie, ongeag hoe ver ons wegdwaal! Toe Jesus sy dissipels geleer het hoe om te bid, het Hy ook die geleentheid gebruik om hulle te herinner hoe gewillig God is om oorvloedig te voorsien vir sy kinders wat vrymoedig genoeg is om te vra:
“Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie. Of as hulle vis vra, vir hulle slange gee nie. As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!” (Matteus 7:9-11 NLV).
Wat 'n ongelooflike seën dat, ongeag ons ervarings, ons uitgenooi word na 'n verhouding met 'n onveranderlike, goeie Vader.
Skep hierdie seisoen moed deur hierdie pragtige beskrywing van ons Ewige Vader, opgeteken in die boek Jakobus: “Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes. Hulle kom van die Vader wat die hemelligte geskep het. Anders as die hemelligte, staan Hy onbeweeglik vas. Selfs sy skaduwee verskuif nie soos hulle s’n nie” (Jakobus 1:17 NLV). In Hom het ons hoop, genesing en die belofte van sy sorg, vir ewig!
Gebed: Dankie Jesus, vir u volmaakte voorbeeld van wat 'n Vader behoort te wees. Versag my hart vir die waarheid om te weet dat U die hart van hierdie seisoen is en u hart in hierdie seisoen is vir my. U is 'n Goeie Vader!
Aangaande hierdie leesplan
Kersfees is 'n tyd van groot vreugde, wat die geboorte van Jesus, ons Verlosser aankondig. Daar is verskeie profesieë regdeur die Bybel wat handel oor die koms van Jesus en in hierdie leesplan gaan ons na sewe name kyk wat God in die Skrif gebruik om sy koms aan te kondig. Ons gaan ontdek hoe Jesus aan elkeen gestalte gee en dat hulle vandag nog steeds so toepaslik is as toe Hy op die aarde gewandel het.
More