Gestremdheid in die Bybel: Lewenslesse vir ons AlmalVoorbeeld
Die Blinde Man en Sy Sig
Hoekom moet ons lyding verduur?
Hoekom is die lewe moeiliker en het sommige meer uitdagings?
Hoekom kan ek nie iets doen of soos ander wees nie?
Soms kyk ons na ons lewens of omstandighede en kan net nie verstaan hoekom dinge is soos dit is nie.
In Markus 8 het mense 'n blinde man na Jesus gebring om te genees. Jesus het hom uit die dorp gelei, op sy oë gespoeg, sy hande daarop gesit en gevra of hy iets kon sien. Die blinde man kon sien, maar sy sig was vaag en onduidelik.
Dit is presies hoe ons sig op hierdie oomblik is. Toe jy Jesus gevra het om jou te red en in jou lewe in te kom, het jy redding en nuwe vryheid ontvang, maar dit beteken nie dat jy nou alles begryp nie. Jy kan nie alles verstaan nie. Jy, en al die ander, sien slegs gedeeltelik.
Genadiglik en wonderbaarlik het Jesus weer die man aangeraak en aan hom sy volle sig gegee. Dit was so ongelooflik en wonderbaarlik dat Jesus die blinde man moes vra om nie dadelik na sy dorp terug te keer nie, omdat die tyd vir Jesus se openbare bediening nog nie aangebreek het nie.
Dit is ook wonderlik hoe hierdie storie eintlik 'n getuienis van die lewe van almal is wat Jesus vertrou en volg. God het gekies om die storie van die blinde man, wat normaalweg oorgesien sou word, te gebruik om die misterie van nuwe lewe deur redding te openbaar.
Jy sien nou net gedeeltelik — as jy tot redding kom. Wanneer ons Jesus egter van aangesig tot aangesig ontmoet, sal ons die volheid van ons redding ervaar en sal ons volkome sien en verstaan.
Wanneer jy dus in versoeking kom om ontmoedig te word oor wat jy nie kan doen nie, onthou niemand is volmaak in vergelyking met die nuwe liggame wat ons van God sal ontvang om die ewigheid saam met Hom deur te bring nie (Filippense 3:17–21).
Volmaaktheid is nie in hierdie lewe bereikbaar nie. Jy gaan dus nie al die antwoorde op jou vrae in hierdie lewe kry nie. Jy kan egter steeds 'n betekenisvolle lewe tot eer van God lei, en jy kan so 'n lewe lei ongeag jou verskille of gebreke. Eer en gehoorsaam God in alles wat jy doen. Dien sy mense en kerk met 'n nederige hart. Benut die gawes wat Hy jou geskenk het tot sy eer. Wees lief vir almal.
Gebed: Vader, dankie dat U my oë geopen het vir die manier waarop U gekies het om deur mense met gestremdhede in die Bybel te werk. Dankie dat U hulle gekies het. Dankie dat hulle verhale neergeskryf is vir almal om te lees. Help my om my roeping met vrymoedigheid na te jaag, wetende dat U my alles gegee het wat nodig is om die werk te voltooi waartoe U my geroep het. Help my om voorspraak te maak vir my behoeftes en vir die behoeftes van diegene om my. Help my om nie mense uit te sluit nie, en vreugde te ervaar in die feit dat U my ingesluit het aan u tafel. Help my om te onthou om U te loof en te prys vir die gawes wat U my elke dag skenk. Dankie vir die mooi lewe waarna ons kan uitsien, waar daar geen lyding, vrae of stryd sal wees nie — slegs heelheid, nuwe liggame en ewige liefde in u teenwoordigheid.
Aangaande hierdie leesplan
Die Bybel is vol van navolgenswaardige mense, sommige ook gestremd. Verteenwoordiging is belangrik en die Here verstaan dit! Indien jy of iemand vir wie jy lief is met 'n gestremdheid of andersheid saamleef, mag hierdie leesplan jou insig gee in die manier waarop God kies om verskille van enige aard te gebruik ten einde sy wil te bereik. Lees verder om van vyf anderse en gestremde persone in die Bybel te leer.
More