Gehoorsaamheid aan die Here te Midde van VeranderingVoorbeeld
Wanneer Ons Spruit Opdroog
Toe ons Elia die eerste keer ontmoet, sê God vir hom om vir koning Agab in die Kritspruit weg te kruip. Elia het pas verklaar dat daar geen reën in Israel sou val voor hy so sê nie, en Agab was nie 'n baie vergewensgesinde heerser nie.
Tydens sy ballingskap het Elia uit die spruit in die kloof gedrink, en die kraaie het elke oggend en aand vir hom brood en vleis gebring. Ons weet nie hoe lank God Elia daar gehou het nie, maar vers 7 sê vir ons: "Uiteindelik het die spruit opgedroog ..."
Ek weet nie of daar al ooit 'n spruit vir jou opgedroog het nie. Dit voel nie glad nie goed nie. Dit gebeur wanneer God se voorsiening ophou om uit 'n bepaalde rigting te kom. Hy het op ‘n sekere manier in jou behoeftes voorsien, maar toe hou Hy op. Hy sê nie altyd vir jou hoekom nie, maar Hy gee jou 'n teken: “Dit is tyd om aan te beweeg. Ek het iets nuuts vir jou om te doen.”
Om jou spruit te verloor, kan frustrerend wees. Jy was gemaklik. Dinge het net goed begin werk. Jy was goed met wat jy gedoen het. Jy het planne gemaak om 'n huis naby jou spruit te bou sodat jy vir altyd daar kon bly. Dan ... verrassing! Hy neem dit weg.
Ek dink ek weet hoekom God ons spruite wegneem. Dit is omdat ons te veel daarvan hou.
Wanneer ons te gemaklik raak, hou ons op om te groei of 'n impak op ons omgewing te hê. Deur die spruit op te droog, dwing Hy ons om sy voorsiening op 'n ander plek te soek.
Wat as Elia nooit die spruit verlaat het nie? Wat as hy in die stof geskop het en by God gekerm het oor hoeveel hy van die spruit hou en dit verdien? Wat sou met die weduwee en haar seun gebeur het? Wie sou die oorwinning teen Agab se profete behaal het? Wie sou die mantel aan Elisa oorgedra het?
Dit doen ons nie goed om te kla as God ons spruite opdroog nie. Dit is goed om hartseer te wees, maar hoe gouer ons opstaan en verder beweeg, hoe gouer kan Hy ons ons volgende opdrag wys.
Here, help my om U te vertrou wanneer my spruit opdroog. Gee my u Heilige Gees om my te lei na gehoorsaamheid wanneer ek veel eerder in daardie gemaklike plek wil bly wat U voorsien het. Lei my na waar U wil hê ek moet wees — ek wil U volg. Amen.
Hierdie oordenking is verskaf deur Michael Kientz van Compassion International, Senior Opleiding- en Ontwikkelingspesialis en Kinderadvokaat
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Dit maak nie saak in watter tydperk van die lewe ons ons bevind nie, die Here het ons geroep om Hom gehoorsaam te volg. Hoe kan ons egter op ‘n innemende manier aan die Here gehoorsaam wees te midde van stresvolle, onaangename, spanningsvolle of uitputtende verandering? Hierdie 10-dag oordenking, geskryf deur Compassion International se personeellede, sal jou help om God se roeping vir jou lewe, te midde van uitdagende tye, te hanteer.
More