Gehoorsaamheid aan die Here te Midde van VeranderingVoorbeeld
Hoekom Moet Ons Vra?
Volwassenheid bring baie uitdagings op ons pad. Om aan te pas by 'n nuwe werk, 'n onderneming te verkoop, twee tieners groot te maak ... al hierdie veranderinge kan amper te veel wees om te verwerk. As volgelinge van Christus weet ons dat ons veronderstel is om te bid en God se leiding op te soek, maar die lewe is net so besig. God ken ons deur en deur, hoekom moet ons dan vra vir iets waarvan Hy reeds bewus is? Hy ken ons sorge, ons leed en ons sondes. Waarom moet ons bid om vrede, genesing en vergifnis?
Die eenvoudig rede is, omdat ons in die Skrif gesê word om sonder ophou te bid (1 Tessalonisense 5:17 AFR20). Hy het ons nie veel beweegruimte gegee nie. As kinders van God wat ten volle vergewe is, word ons geroep om 'n kommunikasiekanaal tussen ons en die Skepper van die heelal oop te hou. Wat 'n groot opdrag! Tog ook 'n pragtige geleentheid. Hoe hou ons egter daardie kommunikasiekanaal oop wanneer afleidings ons oorweldig?
Bestee tyd saam met jou hemelse Vader in gebed. Hy sal jou hoor! “Die gebed van 'n gelowige het ‘n kragtige uitwerking” (Jakobus 5:16b). Wanneer ons kommunikasiekanaal na ons hemelse Vader oopbly, wys ons Hom dat ons van sy leiding in ons lewens afhanklik is. Dit maak dit ook vir ons as sy kinders moontlik om te onthou dat Hy ons lewens in sy hande hou.
Verwyder trotse gedrag en gedagtes. “Ek kan dit op my eie doen.” Klink dit bekend? Meer dikwels as wat ons waarskynlik wil erken, vertrou ons op ons eie krag om ons deur die lewe te lei. Geen deel van ons lewe is egter te klein of te groot vir ons Here nie! Hy wil hê ons moet op Hom vertrou, nie op onsself nie. Wanneer ons bid, erken ons sy mag en opperheerskappy oor alle dinge.
Doen wat Jesus gedoen het. As ons doel is om voortdurend meer soos Hy te word, moet ons sy gedrag weerspieël. Nadat Jesus sy gebruiklike gebed voltooi het, het die dissipels Hom gevra om hulle te leer bid. Jesus sê vir hulle: "Wanneer julle bid, sê dan ..." Nie as nie, maar wanneer. In Getsemane het Jesus tot God uitgeroep om die beker van lyding van Hom af weg te neem. As Jesus die Vader moes aanroep, hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie?
As jy jouself bekommer, raak stil en bid! God sal ons nie misken of verwerp nie. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, ...” (Johannes 14:13).
Liewe Here, vergewe my dat ek nie met al my sorge en versoeke na U toe gekom het nie. U het ons lief en is getrou om ons gebede te verhoor. Oorweldig my met u teenwoordigheid en vrede en lei my in navolging van u wil gedurende alle tydperke van die lewe.
Hierdie oordenking is verskaf deur Jennifer Cunningham van Compassion International, Uitvoerende Assistent en Kinderadvokaat
Aangaande hierdie leesplan
Dit maak nie saak in watter tydperk van die lewe ons ons bevind nie, die Here het ons geroep om Hom gehoorsaam te volg. Hoe kan ons egter op ‘n innemende manier aan die Here gehoorsaam wees te midde van stresvolle, onaangename, spanningsvolle of uitputtende verandering? Hierdie 10-dag oordenking, geskryf deur Compassion International se personeellede, sal jou help om God se roeping vir jou lewe, te midde van uitdagende tye, te hanteer.
More