Die OfferandesVoorbeeld
Die Skuldoffer (Lev 5:14- 6:7)
As die sondoffer uitsluitlik om versoening gaan, wat is dan die sentrale gedagte van die skuldoffer?
In die skuldoffer kom die persoon as ’n versoende persoon na God om boete te doen vir sy oortredinge of daadsondes teenoor God (Lev 5:15, 16) en sy medemens (Lev 6:2-4).
- Die skuldoffer was vir oortredinge. Die oortreding is nie net een van bewustelikheid nie, maar behels ook die onbewustelike oortredinge (Lev 5:15, 17, 19). Hieruit blyk die waarheid te wees dat nie ons gewete of ons begrip van sonde die standaard is waardeur sonde en oortredinge bepaal word nie, maar wel die waarheid van God. As ons gewete of begrip van sonde ons norm sou wees, sou elke persoon sy eie maatstaf gehad het van wat reg of verkeerd is en sou dit nie berus het op die waarheid van God nie. Onkunde maak egter nie die verkeerde reg nie en is ook geen verskoning nie; in God se oë bly dit verkeerd.
Van die Jood van ouds wat van die sonde van oortreding geregverdig wou wees, is verwag dat hy ’n ram sonder gebrek moes offer. Hierdie tipe het Christus in sy offer aan die kruis vervul. Nie alleen het Jesus “Homself gegee . . . vir ons sondes . . .” (Gal 1:4) – die wortel van sonde, naamlik “die sonde in die vlees” (Rom 8:5) – as die sondoffer nie, maar Hy het Homself ook as “skuldoffer aangebied” (Jes 53:10) en “is ter wille van ons oortredinge – die vrug van die sonde in ons – deurboor” (Jes 53:5). Hieruit wil dit blyk dat Jesus nie net vir ons sondeskuld gesterf het nie, maar ook vir ons sondes van oortredinge. Hier, net soos in die sondoffer, staan Christus “die Regverdige vir die onregverdiges” (1 Pet 3:18) en bely die oortredinge van sy volk as sy eie; en vir hulle oortredinge het Hy ten volle restitusie gedoen; en ons in Hom het sodoende vir God ook tevrede gestel.
Uit bogenoemde verklarings spruit twee belangrike waarhede:
1. Die gelowige kan nog sondig. Nadat die Israeliet as ’n sondige mens deur sy sondoffer met God versoen is, beteken dit nie dat hy nie meer kan sondig nie. Inteendeel, die Skrif leer ons in 1 Johannes 2:1 dat die versoende persoon nog kan sondig: “Ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het. . .”. Met ander woorde, hy kan nog sondig, hoewel hy nie hoef te sondig nie (Rom 8:12).
2. Die verreikende gevolg van die gelowige se sondigheid. In die lig van die skuldoffer leer ons dat die oortreding van die Israeliet teenoor sy medebroeder as ’n sonde teenoor God gereken word (Lev 6:1, 2). Hierdie waarheid word ook vir ons in Handelinge 9 voorgehou. Saulus vervolg die gemeente, maar Christus uit die hemel sê: “Ek is Jesus wat jy vervolg” (Hand 9:5). In hierdie verklaring vereenselwig die Here Jesus in die hemel Hom met hulle op die aarde wat in Hom glo, as één met Homself (1 Kor 6:17).
Wanneer een Christen dus teen ’n ander een sondig, sondig hy teenoor ’n ander lid van die liggaam van Christus (1 Kor 12:27, 26) en uit die aard van die saak ook teen die Here self.
Die ou natuur is dus nog in ons en steeds tot die sonde geneig (Rom 8:7, 8). Ook die nuwe natuur, die Heilige Gees, is in ons en dié kan nie sondig nie (1 Joh 3:9; 5:18). As die gelowige wel sondig, moet hy dit as ’n oortreding teenoor die Here bely (1 Joh 1:9). Christus ons Hoëpriester neem hierdie belydenis en bring dit voor die Vader (Heb 3:1). Omdat God getrou en regverdig is (1 Joh 1:9), sal Hy die belydenis deur sy Seun aanneem en ons vergewe en van alle ongeregtigheid reinig.
- Die skuldoffer was vir restitusie. In die skuldoffer moes die oortreder vergoed vir die leed wat hy sy naaste berokken het. Die bedrag van die skade gely volgens die priester se skatting, moes in sikkels silwer “volgens die sikkels van die heiligdom” betaal word (Lev 5:15). By die hoofsom moes ook nog ’n vyfde deel van die hoofsom bygevoeg word (Lev 5:16; 6:5).
Twee waarhede word hier aan ons voorgehou:
1. Herstelling (Lev 5:15). Die gedagte hier is nie soseer dat die oortreder gestraf word nie, maar dat die lydende party vergoed word vir wat hy gely het. God en die mens is albei deur Adam se oorteding en val verontreg; albei sal net soveel terug ontvang van die mens Christus Jesus, die tweede of laaste Adam, as die skuldoffer.
Die Here is deur die mens te na gekom en verontreg deur sy oortreding in die “heilige gawes van die Here”; Sy regte word nie nagekom nie, sy aansprake verontagsaam omdat die mens baiemaal ’n rower is wat vir homself die vet of die lewe neem wat God toekom. So is God gevolglik as’t ware die verloorder, maar deur Christus is hierdie verlies terugbetaal. Of dit eer, diens of aanbidding is of enigiets waarop God aanspraak het en waarvan die mens Hom beroof het, het Hy weer van die mens Christus Jesus terug ontvang in die nuwe ras van wedergeborenes. Aan die einde gaan Christus die hele wêreld wat nou onder die mag en heerskappy van die god van die wêreld is (1 Joh 5:19; Joh 12:31; 14:30; 16:11), aan God teruggee, vry van die vloek van sonde (Rom 8:19-21).
Nie alleen is God deur die mens se oortredinge verontreg nie, maar die mens is self van eer en heerlikheid beroof deur sy oortredinge. Net soos God in Christus weer vergoed is, so is die mens ook in Christus vergoed. Hy kan weer daardie heerlikheid en eer in Christus terugkry “wat die afskynsel is van Sy heerlikheid” (Heb 1:3). In Christus toon God ons die patroon van die volmaakte mens; die mens soos God oorspronklik bedoel het hy moet wees (Kol 3:4; Fil 3:20, 21; 1 Joh 3:2; Rom 8:29)
2. Byvoeging (Lev 5:16; 6:5). Nie alleen is die oorspronklike verlies wat gely is, terugbetaal nie, maar ’n vyfde deel van die waarde van die hoofsom, soos deur die priester bepaal, moes bygevoeg word. Jesus gaan nie net die wêreld en die mens aan God teruggee soos dit oorspronklik geskep is nie, maar Hy gaan dit teruggee met iets meer. En dit is die heerlike byvoeging wat die kruis tot God die Vader bring, naamlik “baie kinders tot heerlikheid” (Heb 2:10); ’n Nuwe ras (mense) van wedergebore kinders van God wat aan die goddelike doel vervulling gee en aan al die goddelike eise voldoen, en God in alles behaag.
’n Nuwe ras (mense) wat tot die ganse heelal sal getuig dat die heerlikheid van God nie net handel oor die verlossing van die skepping nie, maar in die weergalose en sublieme liefde en genade wat sy Seun ons geskenk het.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer ons die offerandes van die Ou Testament soos opgeteken in Levítikus 1-7 bestudeer, sal dit goed wees as ons onsself daaraan herinner dat daar deur die OFFERANDES ’n weg tot God is – Christus is ons offerlam. Die offerandes was ’n kenmerk van die godsdiens van die volk Israel wat binne die raamwerk van die openbaring by die berg Sinai geskied het.
More
Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/