Die OfferandesVoorbeeld
Die Dankoffer (Lev 3:1-17; 7:11-21, 29-34)
Ons kom by die derde en laaste van die wydingsoffers as ’n “lieflike geur” aan die Here. In die brandoffer het ons ’n tipe van Christus se offer van Homself aan God as die volmaakte aanbidder; die spysoffer spreek weer van Christus se volmaakte lewe ten tye van sy aardse omwandelinge; terwyl Hy in die dankoffer, as gevolg van die vorige twee, die aspek van gemeenskap weerspieël.
Die dankoffer verskil van die vorige twee hierin dat God, die offeraar en priesters almal tesame van dieselfde offer geniet en versadig geword het. God het eers sy deel van die offer wat Hy alleen kan geniet, naamlik die binneste dele, die vet en niere of die teergevoeligheid van Christus, gekry en is tevrede (Lev 3:16b, 17b). Die offeraar het sy deel van dieselfde offer (Lev 7:16) gekry en so ook die priesters, en almal is versadig en tevrede (Lev 7:31).
- Met die dankoffer word die offeraar versadig. In die dankoffer eet die offeraar (die Israeliet) van die vleis van die offer wat “die liggaam van Jesus Christus” (Heb 10:5) voorstel, en as ’n lieflike geur het dit God reeds tevrede gestel (Lev 3:5). Dit gee ook aan die offeraar, nl. Christus, tevredenheid met sy eie offer (Jes 53:11).
Christus as Offeraar het alles wat Hy gedoen het, “vir ons” (Ef 5:2) gedoen; daarom, “soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld” (1 Joh 4:17). Soos Hy Offeraar sowel as Offer was, so is ons dit in Hom. Soos Hy deur sy eie offer versadig is, so is ons ook deur sy offer versadig.
Net so min as wat Christus gemeenskap met God deur enigiets behalwe sy eie, volmaakte offer kon hê, net so min kan ons met God gemeenskap tot geestelike versadiging hê, behalwe deur Christus se volmaakte offer (1 Pet 2:5). Omdat ons lewe en aanbidding gebrekkig is, kan dit nooit deur God aanvaar word nie, tensy ons nie voor Hom kom met die lieflike geur van die volmaakte offer waarmee Hy tevrede is nie.
- Met die dankoffer hou die offeraar maaltyd met God. In die dankoffer hou die offeraar maaltyd met God en geniet van dieselfde offer. Só het Christus die offer van sy lewe met sy Vader gedeel.
Ons kan nie ‘niks’ met God deel nie, ons moet iets met Hom deel en Hy sal ook nie met ons in die onreine deel nie. Ons offer van onsself, ons lewe en aanbidding is daarvoor te ellendig vir God om met ons daarin te deel, maar dank God, daar is ’n volmaakte offer sonder gebrek vir ons, nl. dié van Christus. Met daardie offer kan ons met God deel en gemeenskap hê.
- Met die dankoffer hou die offeraar maaltyd met die priester. In die dankoffer hou die offeraar maaltyd met die priester van sy offer (Lev 7:32).
So hou Christus as die Offeraar met my as priester (1 Pet 2:5) maaltyd deur saam met my sy offer (dít wat Hy aan die kruis gedoen het) te geniet. As ek as priester van sy offer in hierdie lewe leef, het ek iets in gemeenskap met Hom (1 Joh 1:7).
- Die betekenis van die offeraar se verpligtinge. Die dankoffer kon op twee maniere gebring word: as ’n lofoffer (Lev 7:12) en as ’n gelofte- of vrywillige offer (Lev 7:16).
As lofoffer sien ons Jesus as die Een wat Homself tot lof van God se heerlikheid geoffer het; as gelofte- of vrywillige offer het Hy Homself vrywillig in die diens van God geoffer.
- Wanneer ’n lofoffer gebring word (Lev 7:12-15), moet dit ongesuurde gebak van fynmeel en olie wees (Lev 7:12, 13). Ons het reeds daarop gewys dat suurdeeg sondigheid simboliseer; die fynmeel die volmaakte mensheid en die olie Christus se salwing met die Heilige Gees. Daar mag geen suurdeeg in enigiets wees wat op die altaar geoffer word nie (Lev 1:4, 8, 9, 11). Alleen dít wat sonder gebrek, rein en heilig is, kon op die altaar aan God geoffer word.
So het Jesus Homself sonder sonde, volmaak en gevul met die Heilige Gees as ’n lofoffer aan God geoffer.
- Dit moet koeke van gesuurde brood wees (Lev 7:13). Die gesuurde koeke kon nie as ’n brandoffer aan God geoffer word nie, maar kon nogtans voor God se aangesig gebring word tesame met die vuuroffer van lieflike geur (Lev 7:13).
Die gesuurde koeke hier wys op die gelowige met sy inwonende sondige natuur (Rom 7:17, 20) wat sy lofoffer aan God bring. Hy kan dit egter alleen aan die Here bring tesame met Christus se soenverdienstelikheid. Ons is alleen in Christus by God aanneembaar (Ef 1:6; 3:12).
Wanneer ons Levítikus 7:13 en 7:20 vergelyk, word twee dinge aan ons voorgehou, nl. sonde IN ons en sonde OP ons, d.w.s. ons gewete.
Suurdeeg (sonde IN ons) is toegelaat, omdat die menslike natuur sondig is. Vir dié sonde is ons deur genade dood (Rom 6:7, 11). So lees ons byvoorbeeld dat die priester wat die gesuurde brode ontvang, die een moet wees wat ook die bloed teen die altaar uitgooi (Lev 7:14). Christus kan ons dus ontvang omdat Hy eers Sy bloed vir ons gestort het. Hoewel sonde in ons is, is dit nie wat God sien nie; Hy aanskou die bloed wat vir die toestand betaal het en is tevrede dat die sonde in ons gestraf is. Op grond hiervan laat Hy ons toe tot gemeenskap met Hom.
Die suurdeeg (sonde IN ons) word toegelaat in gemeenskap met God, maar onreinheid (sonde OP ons gewete) hoegenaamd nie, want die persoon wat só na God vir gemeenskap kom, “moet uit sy volksgenote uitgeroei word” (Lev 7:20). Met ander woorde, as ons toelaat dat die sonde in ons tot daadsonde ontwikkel, word ons onrein en dit raak en vertroebel ons gemeenskap met God. Daarom moet ons elke dag toesien dat ons van ons daadsondes gereining word deur dit aan die Here te bely (1 Joh 1:9).
- Die vleis daarvan moet op dieselfde dag geëet word (Lev 7:15). Die tyd om van die lofoffer te geniet, was op dieselfde dag tot die môre van die volgende dag. So moet ons Christus se offer in die dag van genade, vanaf sy kruisdood tot die môre van sy wederkoms, geniet (Ex 12:8, 10).
- Wanneer ’n gelofte of vrywillige offer gebring word (Lev 7:16-18), moet die vleis daarvan op die eerste en tweede dag geëet word (Lev 7:16, 17). Die tyd om van die vrywillige offer te geniet, was bepaal vir dieselfde dag en op die daaropvolgende dag, maar op die derde dag mag daar glad nie van die offer geëet word nie.
Die derde dag spreek hier van Christus se opstanding uit die dood (Luk 13:32; 1 Kor 15:4), toe alle tipologiese offers van die wet tot ’n einde gekom het (Rom 10:4; Gal 3:9, 24). Hierdie afskaffing van die tipes word uitgebeeld in die verbranding van die derde dag se oorblyfsels van die dankoffer. Vir ons om dus ná die opstanding van Christus uit die dode nog op dié tipes te voed, beteken om terug te keer na die “swakke en armoedige eerste beginsels” (Gal 4:9 – 11).
Dit wat betref die drie wydingsoffers. Vervolgens gaan ons nou na die twee boetedoeningsoffers kyk. Voor ons dit doen, laat ons eers die drankoffers in oënskou neem.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer ons die offerandes van die Ou Testament soos opgeteken in Levítikus 1-7 bestudeer, sal dit goed wees as ons onsself daaraan herinner dat daar deur die OFFERANDES ’n weg tot God is – Christus is ons offerlam. Die offerandes was ’n kenmerk van die godsdiens van die volk Israel wat binne die raamwerk van die openbaring by die berg Sinai geskied het.
More
Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/