Die OfferandesVoorbeeld

Die Offerandes

DAG 1 VAN 8

Wanneer ons die offerandes van die Ou Testament soos opgeteken in Levítikus 1-7 bestudeer, sal dit goed wees as ons onsself daaraan herinner dat daar:

  • deur die TABERNAKEL ’n weg tot God is – Christus is die ontmoetingsplek;
  • deur die PRIESTERSKAP ’n weg tot God is – Christus is ons Hoëpriester;
  • deur die OFFERANDES ’n weg tot God is – Christus is ons offerlam; en
  • deur die FEESTE ’n weg tot God is – Christus is ons fees.

Die offerandes was ’n kenmerk van die godsdiens van die volk Israel wat binne die raamwerk van die openbaring by die berg Sinai geskied het. Die prosedures wat in Levítikus uiteengesit word, veronderstel ’n heiligdom, ’n altaar en ’n priesterdom.

Die Betekenis van die Bloedofferande

Alle offers is deur die geloof gebring (Heb 11:6, 28). Al vyf die Ou-Testamentiese offers was dus geloofsoffers. In die Ou-Testamentiese bestel moes die Israeliet glo dat God hom sou vergewe as hy die offer volgens die regte voorskrifte bring. In die Nuwe Testament moet die gelowige glo in die Lam van God (Jesus Christus), se offer (Heb 10:19-22; 4:2-3; 1 Joh 5: 4,5,13; 1 Pet 1:18-21).

Ons sien dat die gebruik van offerandes, waarin die bloed van diere gestort word, uit die vroegste begin van God se handelinge met die sondige mens spruit (Gen 3:21; 4:4; 8:20-22), en deur die hele Bybel heen strek. In die Nuwe Testament vind al die offers hul vervulling in die dood van Jesus Christus (Heb 9:11 – 10:18). 

Die woord wat as “offer” vertaal word, beteken “gawe”. In die sleutelvers, Levítikus 17:11, word verklaar dat offerande ’n gawe van God aan die mens is; dit is Sy voorsiening in die mens se behoeftes. “Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.” Maar hoe kan dít wat God aan die mens gee, vertolk word as iets wat die mens aan God gee?

Twee belangrike leidrade oor die betekenis van die bloed en offerande word vir ons hier in Levítikus 17:11 gegee.

  • Die bloed bewerkstellig versoening. “Versoening” het beteken dat ’n prys betaal moes word, ’n losprys. Die bloed verskans die oortreder omdat daardeur, die prys voorsien word wat die sondeskuld voor God betaal. Slegs as hierdie prys betaal word, kan die sondige mens hoop op vergifnis en weer in die teenwoordigheid van God verskyn. Dit wat in Levítikus 17:11 verklaar word, is presies wat deur die bloed moontlik gemaak word.
  • Die bloed het versoeningskrag omdat die “siel van die vlees” daarin is. Die grondbeginsel vir regverdige straf is “lewe vir lewe” (Deut 19:21). Die een lewe betaal vir die ander. Daarom, soos wat “om te versoen” beteken om die losprys te betaal, net so beteken die siel van die vlees dat die een siel, die een lewe, vir die ander siel betaal. 

Met ander woorde, bloed beteken die dood (Gen 9:5; 37:26). In die offerande word die lewe van die dier beëindig. Die gestorte bloed is die simbool en bewys dat die lewe geneem is as betaling vir die sonde van die skuldige en as ’n plaasvervanger vir sy besmette lewe. Diereoffers demonstreer dus dat die offeraar sy of haar lewe aan God gee by wyse van die lewe van die offerdier. Diere-offerandes het die beginsel uitgedruk. In die dood van die Here Jesus Christus (die Lam van God) is dit ten volle verwerklik. In die Ou Testament het die volk ’n Godgegewe voorafskaduwing gehad van die bloed van Jesus vir ons gestort, en van sy plaasvervangende dood namens ons, vir ons sondes, die Regverdige vir die onregverdiges, eens en vir altyd (Heb 10:10, 12, 14).

Daar is vyf verskillende offers wat dié doelwitte vervul. Om lof en dank, aanbidding en toewyding, om versoening, sowel as die dek (toemaak) en verwydering van skuld en sonde, aan te toon. 

Twee woorde kan al vyf die offers beskryf: “aanbidding” en “vergifnis”. Die rede vir die bring van offers was om hierdie rede: Gemeenskap met God word begeer en vergifnis van sonde word verlang deur die offeraar. Die vyf verskillende offers is, naamlik: brandoffer, dankoffer, spysoffer, sondoffer en skuldoffer.

Uitleg van die vyf offerandes (Levítikus 1-7)

Ons lees in Hebreërs 5:1 “elke hoëpriester wat uit die mense geneem word, tree ten behoewe van mense op in die dinge wat in betrekking tot God staan, om gawes en offers vir die sondes te bring”. Hier word vir ons die twee kategorieë offers gegee wat aan God gebring moes word, naamlik gawes en offers. Hierdie indeling is die sleutel tot die eerste sewe hoofstukke van Levítikus, waarin ons van vyf verskillende offers lees. Die eerste drie is wydingsoffers en die laaste twee is boetedoeningsoffers.

· Die brandoffer spreek van algehele toewyding en oorgawe aan God.

· Die spysoffer spreek van dankbaarheid teenoor God.

· Die dankoffer spreek van gemeenskap en vrede met God.

· Die sondoffer spreek van sonde teen God gedoen.

· Die skuldoffer spreek van sonde wat ’n mens teen jou medemens gedoen het en van restitusie.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Die Offerandes

Wanneer ons die offerandes van die Ou Testament soos opgeteken in Levítikus 1-7 bestudeer, sal dit goed wees as ons onsself daaraan herinner dat daar deur die OFFERANDES ’n weg tot God is – Christus is ons offerlam. Die offerandes was ’n kenmerk van die godsdiens van die volk Israel wat binne die raamwerk van die openbaring by die berg Sinai geskied het.

More

Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/