Die wil van GodVoorbeeld
God se oppermag en ons vrye wil
Wanneer mense God se wil oordink, het die vrae wat hulle die meeste vra, te make met onvermydelikheid. Sal God se plan altyd bereik word? Kan ek dit in die wiele ry? Het ons 'n keuse oor hoe ons lewens uitdraai? Hoeveel van God se plan sal Hy op ons afdwing en hoeveel daarvan is ons eie keuse?
Hierdie is van die vrae waarmee ons almal worstel wanneer ons na God se wil vir ons lewe soek — veral wanneer dit by belangrike besluite kom. Om God se oppermag en ons vrye wil beter te verstaan, is dit nodig dat ons na twee hoofaspekte van God se plan kyk: Dit wat Hy bepaal het om te gebeur en dit wat Hy graag wil hê moet gebeur.
God se bepalende (oppermagtige) wil is wat uiteindelik sal gebeur — sy onvermydelike, onveranderbare, doelgerigte en omvattende planne wat aan Hom groot lof en eer sal bring. Ons moet begryp dat God nie hierdie planne uitsluitlik vir wêreldgebeure en vir nasies maak nie. Hy maak ook sulke planne vir jou en vir my (Psalm 139:16). In Efesiers 2:10 onthul die Bybel: "God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het." Die Here is aktief besig om elkeen van ons voor te berei vir spesifieke opdragte en Hy gee ons unieke gawes waarmee ons 'n impak vir Hom in die wêreld kan maak (1 Korintiërs 12:7).
God se verkose (toegelate) wil is die sfeer waarin ek en jy elke dag leef. God gee vir ons keuses sodat ons ons vrye wil kan uitoefen en self kan kies om aan Hom gehoorsaam te wees. Hy doen dit ook om ons harte te toets, om te sien of ons Hom werklik as ons God erken. Wat Hy vir ons begeer is sy persoonlike betrokkenheid in ons alledaagse lewe en dat ons besluite die rigting wat Hy aanwys sal weerspieël. Daarom, waar die Here se bepalende wil onlosmaaklik deel is van wat Hy in sy Woord aan ons bekendmaak, is dit wat die Vader vir jou lewe begeer, herkenbaar in die omstandighede wat jy beleef. En dit verg dat jy 'n keuse moet maak en besluit wie Hy vir jou is.
Die belangrikste ding vir jou om te onthou is dat God ten volle aan sy algehele plan toegewy is. As jy God soek en dit jou hartsbegeerte is om sy wil te doen, het Hy belowe Hy sal jou wys wat om te doen. Jesus het self gesê: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word" (Matteus 7:7–8). As jou hemelse Vader, wil God hê jy moet vra, soek en klop sodat Hy kan gee, bekendmaak, oopmaak, en voorsien wat goed is vir jou (Matteus 7:11).
Selfs wanneer jy onseker is oor watter keuse om te maak — as Hy, vir watter rede ook al, sy wil vir jou verberg — kan jy troos vind in die feit dat dit "God is wat jou gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer" (Filippense 2:13). Die Here neem verantwoordelikheid om jou deur die onsekerheid te lei en rigting te gee. Hy wil hemel en aarde beweeg om vir jou sy wil in sy goeie tyd te wys. In die dae wat volg gaan ons van nader kyk wat dit beteken en na die verskillende maniere waarop God dit doen.
Aangaande hierdie leesplan
God se wil vir jou lewe hoef nie 'n raaisel te bly nie. Jou hemelse Vader wil graag die planne wat Hy vir jou lewe het aan jou bekendmaak. Dit maak nie saak of jy met 'n groot lewensbesluit worstel of net probeer om elke dag 'n pad saam met die Here te stap nie. Sluit by Dr. Charles Stanley aan terwyl hy jou oor God se wil leer; hoe om dit te onderskei en ook hoe om binne God se wil vir jou lewe te wandel.
More