Die wil van GodVoorbeeld

The Will Of God

DAG 2 VAN 13

God se wil — Die groter prentjie

In Romeine 12:2 belowe God se Woord: "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is." 

Volgens hierdie vers in Romeine is God se wil goed, aanneemlik en volmaak. Daar is absoluut geen aanduiding hier dat God se plan vir jou lewe onuithoudbaar sal wees nie, dit is nie iets wat jy sal haat en wat jou lewe sal ruïneer nie. Inteendeel, wat God vir jou in die vooruitsig het is "goed, aanneemlik en volmaak". Dierdie drie woorde behoort elkeen van ons met vrede en selfvertroue te vul. 

Kom ons kyk in groter detail daarna.  

  • Eerstens: God se wil vir jou lewe is goed. Die Here se plan is moreel eerbaar, uitstekend en voordelig vir jou. Met die eerste oogopslag mag dit dalk nie so lyk nie. Maar ons moet onthou dat God beloof om alles ten goede vir ons te laat meewerk (Romeine 8:28). Ons hemelse Vader is baie versigtig oor wat Hy sal toelaat om ons lewe te beïnvloed. Hoekom? Eenvoudig omdat Hy self goed is. Psalm 145:9 bevestig dat "die Here vir almal goed is". 
  • Tweedens: Die Here se plan vir jou is aanneemlik. Dit is welbehaaglik vir God en terselfdertyd  bevredigend vir jou. Die Here ontvang jou op grond van wat Jesus aan die kruis gedoen het. Van die oomblik wat jy Christus as jou Verlosser aangeneem het, het die Vader jou vir ewig aangeneem. Omdat die Heilige Gees in jou is en die Woord van God jou lei, kan jy tot eer van die Here leef. Om die waarheid te sê, Filippense 2:13 stel dit duidelik dat dit God is wat ons "gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer". Die Vader leer ons geduldig hoe om saam met Hom te wandel — en al die pad wys Hy vir ons die weg aan. Nie net is dit moontlik om tot eer van God te leef nie, maar God is toegewyd daaraan om ons te help om so te leef. 
  • Laastens: God se wil vir jou is volmaak . Wanneer 'n mens die woord volmaak lees, kan 'n mens oorweldig word met die gedagte dat ek nou 'n foutlose lewe moet leef. Maar dit is nie wat hier bedoel word nie. Die Griekse woord teleios wat hier gebruik word, beteken "klaargemaak; tot volwassenheid gebring; in staat gestel om jou doel te bereik; om niks kort te kom nie; om alles te hê wat nodig is". Vriend, die Here het nie halfklaar planne nie — veral nie wanneer dit jou lewe raak nie. Jy mag dalk nie sy volle plan ken nie, maar Hy ken dit. Hy ken "die begin van die einde" (Jesaja 46:10) en Hy kan en sal dit voltooi. 

Die Woord van God belowe ons dat die Here se wil vir ons goed, aanneemlik en volmaak is. Wie sal nie 'n God wil dien wat soveel omgee en so vol liefde is nie? Vandag kan jy vir seker weet dat sy goeie, aanneemlik en volmaakte wil nie net binne jou bereik is nie, maar dat God ook toegewyd is om sy plan vir jou lewe te laat uitwerk, as jy op Hom vertrou. 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

The Will Of God

God se wil vir jou lewe hoef nie 'n raaisel te bly nie. Jou hemelse Vader wil graag die planne wat Hy vir jou lewe het aan jou bekendmaak. Dit maak nie saak of jy met 'n groot lewensbesluit worstel of net probeer om elke dag 'n pad saam met die Here te stap nie. Sluit by Dr. Charles Stanley aan terwyl hy jou oor God se wil leer; hoe om dit te onderskei en ook hoe om binne God se wil vir jou lewe te wandel.

More

Baie dankie aan "In Touch Ministries" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://intouch.cc/yv-will vir meer inligting.