Die wil van GodVoorbeeld
Ag maniere om God se wil te ontdek
In ons soektog om God se wil vir ons lewens te verstaan en na te jaag, het ek hier ag maniere uiteengesit hoe die Vader ons help om sy wil en die planne wat Hy vir ons het, te ontdek.
- Gemeenskap met God deur die Skrif — God leer ons deur middel van sy Woord hoe die Christen se lewe behoort te lyk, wat nie meer by ons pas nie en hoe om die strikke van die lewe te vermy (2 Timoteus 3:16-17). Die Bybel leer ons dus wat die Vader van ons verlang en help ons om dit te bereik. Dis sy handleiding vir die lewe. Hy sal ons nooit na iets lei of sê om iets te doen wat sy Woord weerspreek nie.
- Omstandighede van die lewe — God praat met ons deur die omstandighede in ons lewens — waar Hy ons plaas, die omstandighede waarin ons onsself bevind en die mense met wie Hy ons omring. Hy is heeltyd, oomblik-vir-oomblik, in ons lewens aan die werk om ons in sy wil te lei en dit deur ons te bereik. (Romeine 8:28).
- Raad — God praat met ons deur die goddelike raad van ander gelowiges. Soms het ons die hulp van ander Christene nodig om te weet wat om op terreine te doen waarmee ons nie vertroud is nie. Dis hoekom die Skrif ons vermaan om mekaar in liefde te onderrig, met 'n skoon gewete en in opregte geloof (1 Timoteus 1:5).
- Gewete — Nog 'n faktor om God se wil te onderskei, is deur ons gewete; daardie stemmetjie in ons wat as 'n morele filter dien. Dis die waarskuwing as ons in die versoeking kom om iets te doen wat nie reg is nie, of wanneer ons die verkeerde pad wil loop (Romeine 2:14-15).
- Gesonde verstand — Die Geesbeheerde gelowige behoort sy denke en gesonde verstand te gebruik om die wil van God te onderskei (Titus 2:11–12).
- Verpligting — Die Here gee jou die sterk begeerte of die drang om sy wil te doen, volgens die aansporing van sy Heilige Gees (Filippense 2:13).
- Tevredenheid — Ons onderskei God se wil deur die tevredenheid of kalmte wat ons voel as ons iets doen. Wanneer jy teen die Here werk, sal jy geestelike wrywing ervaar, wat jou ongemaklik laat voel; wanneer jy in die wil van God is, sal jy vrede ervaar (Filippense 4:7).
- Kommunikasie met God deur middel van gebed — Wanneer ons ons vrae en bekommernisse in gebed na God toe bring, belowe Hy om ons te laat verstaan wat ons ervaar en Hy sal ons help om sy begeerte vir die toekoms te verstaan (Psalm 119:105).
God is deurentyd besig om sy hulpbronne namens ons te gebruik. Hy is die Een wat al die maniere gebruik wat hier bo genoem is, om vir jou sy wonderlike wil vir jou lewe te wys. Moenie bang wees dat jy die Vader se wil sal mis of Hom verkeerd sal verstaan nie. Hy kan baie duidelik praat en sal jou bemagtig om te doen wat Hy jou ook al vra om te doen.
Al wat jy moet doen is om aandag te gee aan Hom, te luister en dan gehoorsaam te wees.
Aangaande hierdie leesplan
God se wil vir jou lewe hoef nie 'n raaisel te bly nie. Jou hemelse Vader wil graag die planne wat Hy vir jou lewe het aan jou bekendmaak. Dit maak nie saak of jy met 'n groot lewensbesluit worstel of net probeer om elke dag 'n pad saam met die Here te stap nie. Sluit by Dr. Charles Stanley aan terwyl hy jou oor God se wil leer; hoe om dit te onderskei en ook hoe om binne God se wil vir jou lewe te wandel.
More