Beter TesameVoorbeeld

Better Together

DAG 4 VAN 24

Gaan Saam op 'n Uitreik

Jy is gemaak om uit te reik na ander. God wil hê jy moet sy liefde met ander mense deel — jou vriende, familie, en die mense wat saam met jou werk — wat nie in sy familie is nie.

Hoekom wil Hy hê dat jy dit moet doen? Omdat God almal in sy familie wil hê. God het nog nooit 'n persoon gemaak waarvoor Hy nie lief is en 'n doel voor het nie. God het nog nooit 'n persoon gemaak vir wie Jesus Christus nie gesterf het nie. Daarom wil God hê dat ons hierdie goeie nuus moet deel.

Jy is egter nie alleen nie! God wil hê jy moet saam met ander mense op sending gaan. Filippense 1:27b sê: "... dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie."

Hoe vertel jy jou vriende dat God hulle liefhet? En hoe doen jy dit in vennootskap met ander mense? Jy doen dit deur jou kleingroep.

Eerstens bid jy saam. Jy vra jou kleingroep om te bid vir jou vriende wat nie 'n verhouding met God het nie. Jy kan niemand dwing om vir God lief te wees nie, maar jy kan vir hulle bid. Jou vriende mag jou argumente verwerp of weier om na jou logika te luister. Hulle is egter magteloos teen jou gebede. Dit gaan reguit na hulle hart toe!

Die Bybel sê in Kolossense 4:3: "... Bid dat God vir ons 'n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig ..."

Weet jy wat gebeur terwyl jy vir geleenthede bid? Jy begin hulle oral raaksien! Gebed maak jou van hulle bewus. Wanneer jy vir jou familie begin bid, begin jy om die behoeftes van jou familie te sien. Wanneer jy begin om vir jou kollegas te bid, begin jy bekommerd raak oor jou kollegas.

Soos jy mense om jou beter leer ken, kan jy begin om aanklank te vind by julle gemeenskaplike belange en geleenthede word geskep om die evangelie met hulle te deel.

Voordat jy die goeie nuus met ander kan deel, moet jy 'n verhouding met hulle vestig. Wat is julle algemene ervarings, gemeenskaplike belangstellings en behoeftes? Praat met mense in jou kleingroep oor dinge wat jy wil doen, en vra dan: "Wie ken ons wat dit ook geniet, wie nog nie 'n gelowige is nie? Wie kan ons uitnooi om by ons aan te sluit?"

By Saddleback se kerk is daar 'n kleingroep wie se lede almal aanhangers van die San Diego Chargers is. Almal in die groep het seisoenkaartjies gekoop vir die Charger wedstryde. Almal het bygedra en nog twee ekstra kaartjies vir die seisoen gekoop. Elke keer wanneer hulle na 'n wedstryd gaan, neem hulle twee nuwe mense saam. Hulle gaan en geniet dit, en aan die einde vra hulle: "Het jy dit geniet? Dieselfde groep ontmoet Donderdagaande by Bob se huis. Wil jy by ons aansluit?"

God sal verskeie geleenthede en idees soos dié verskaf. Bid daaroor in die kleingroep en soek mense om jou wat saam kan bedien.

Luister vandag na Pastoor Rick se lering >>

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Better Together

Daar is geen manier om alles te kan wees wat God wil hê jy moet wees en die doelwitte te vervul waarvoor jy op hierdie planeet geplaas is, sonder enige hulp nie. Ons het mekaar nodig, en ons behoort aan mekaar in die liggaam van Christus! In hierdie reeks verduidelik Pastoor Rick hoe om die deur die lewe te gaan in verhouding met ander mense.

More

Hierdie leesplan © 2015 deur Rick Warren. Alle regte voorbehou. Met toestemming gebruik. Vir meer inligting, besoek gerus: www.rickwarren.org