GOD + DOELWITTE: Hoe 'n Christen Doelwitte Kan StelVoorbeeld

DAG 3: Hoe lyk geloofsgedrewe doelwitte?
Hoe lyk God-geleide doelwitte? Kan jy ’n doelwit hê wat nie pertinent met evangeliebediening te doen het nie — byvoorbeeld om gewig te verloor of verder te studeer? Moet jou doelwitte noodwendig net wees om "meer te bid”, “op ’n sendingreis te gaan”, “in my kerk te dien”?
Dit help baie dat sekere doelwitte en praktyke reeds vir ons in die Skrif uiteengesit is: lees jou Bybel (Psalm 119:9), staan meer tyd aan gebed af (1 Tessalonisense 5:17), ruim tyd in om saam met gelowiges te wees (Hebreërs 10:25) en deel jou geloof met ander (Psalm 96:3). God begeer dat ons hierdie dinge sal doen om ons naby Hom te hou; om ons vrugbaar en getrou te hou. Daar is nie ’n kontrolelys om af te merk nie. Dit gaan eerder oor die resultaat as gevolg van ’n hart wat deur God se genade ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. Ons word daartoe gedring om hierdie dinge na te kom, juis omdat Hy ons so liefhet.
Wat egter van die res van ons lewens? God verlang dat ons alles tot sy eer en verheerliking sal doen (1 Korintiërs 12:31) — die groot doelwitte wat Hy stel, asook die alledaagse doelwitte. Hetsy dit is om ’n besigheid op te bou, ’n graad te voltooi, kinders groot te maak, wyse finansiële besluite te neem, jouself te versorg of selfs jou wasgoed weg te pak (ook geestelike wasgoed) — alles moet gedoen word met die doel om God te behaag en om ’n lig vir Hom te wees. Dit beteken nie dat ons gesindhede oor hierdie dinge of ons vordering foutloos moet wees nie, ons moet net getrou wees.
Wanneer ons alles tot sy eer en verheerliking doen, sal mense sien daar is iets anders in ons. Hulle sal wonder waar ons hoop vandaan kom en, as dit God se wil is, sal Hy die geleentheid vir ons skep om die Bron van ons hoop te deel. Moet jou doelwitte dus slegs gesentreer wees rondom sendingreise en diens in jou kerk? Blom waar jy geplant is, waar ook al die Here jou geplaas het. Fluit terwyl jy werk en selfs die alledaagse dinge sal betekenisvol word!
Bid: Vader, dankie dat U my geplant het waar ek is. Help my om tot die daad oor te gaan met die dinge wat U voor my geestelike oë geplaas het; dat ek dit sal sien as God-geleide doelwitte, ongeag wat die taak is. Help my dat alles wat ek doen na U kan heenwys — selfs wanneer ek verbrou en tekortskiet. Laat u genade my banier wees terwyl ek vordering in die bereiking van my doelwitte maak, wetende dat dit nie daaroor gaan om foutloos te wees nie, maar oor U: die Outeur en Voleinder van my geloof. In die Naam van Jesus. Amen!
Aangaande hierdie leesplan

Is dit goed vir 'n Christen om doelwitte stel? Hoe weet jy of 'n doelwit uit jouself of van God af kom? Wat behels Christelike doelwitte nou eintlik? In hierdie 5-dag leesplan gaan jy dieper in die Woord delf en duidelike riglyne vind oor hoe om doelwitte te stel wat deur genade aangedryf word!
More