Paul Tripp se Daaglikse DankseggingsoordenkingVoorbeeld

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

DAG 2 VAN 12

Jaloesie is om op jouself te fokus en eiegeregtig te wees. Dit plaas jou in die middelpunt van jou eie wêreld. Dit laat alles om jouself draai. Dit vertel jou dat dinge jou toekom wat jy nie eintlik verdien nie. Jaloesie vertel jou dat jy iemand is wat jy nie is nie en dat jy geregtig is op dinge waarop jy nie regtig aanspraak kan maak nie. Jaloesie kan nie die geluk van ander vier nie, want dit vertel jou dat jý eintlik meer verdien. Jaloesie vertel jou dat jy dinge verdien wat jy nooit eintlik sou kón verdien nie. Die wêreld van jaloesie meng nie met die wêreld van genade nie, net soos olie nie met water meng nie. Jaloesie vergeet wie jy is, vergeet wie God is, en is verward oor die eintlike doel van die lewe.

Die feit is dit: op een of ander manier, op een of ander tyd, sukkel almal met jaloesie. Ons is jaloers dat die persoon langs ons meer finansiële sukses geniet as wat ons ooit sou kon. Ons wens dat ons huwelik net so gelukkig kon wees as daardie vriende van die kerk s'n. Ons wonder hoekom ons opgeskeep is met hierdie werk wat ons het, wanneer die ander persoon so 'n bevredigende loopbaan het. Ons is jaloers op die ander mense se kleingroepie wat na so 'n liefdevolle gemeenskap lyk. Ons wens ons kon net soveel eet as daardie ander persoon en nog steeds net so maer soos sy bly. Die lang man wens hy is nie so lank nie en die kort man wens hy kon 'n slag afkyk na ander mense. Die krulkop begeer reguit hare en die persoon met reguit hare is weer jaloers op die krulkop. Die slimkop is jaloers op die sterk man en dié wens weer hy kon beter doen in sy akademie.

Jaloesie is universeel omdat sonde is. Jaloesie se oorsprong kom uit die selfsug van sonde (sien 2 Korintiërs 5:14-15). Jaloesie is gefokus op die eie ek. Omdat dit op die eie ek gefokus is, is dit veeleisend. Omdat dit veeleisend is, is dit geneig om God se goedheid te oordeel aan die mate waarmee Hy voorsien in dit waarop jy geregtig gevoel het — en omdat dit God se goedheid aan daardie maatstaf meet, laat dit jou sy goedheid bevraagteken. Omdat jy God se goedheid bevraagteken, weier jy om na Hom toe te hardloop vir hulp. Jaloesie is 'n geestelike ramp.

Genade herinner ons dat ons niks verdien nie, maar dit eindig nie daar nie — dit konfronteer ons met die waarheid dat God oneindig lief is vir ons, genadig en goed is en dat Hy ons oorval met dinge wat ons nooit kan verdien nie. Genade herinner ons ook dat God wys is en dat Hy nooit die verkeerde adres kry nie — Hy gee aan ons elkeen wat Hy weet ons nodig het.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

Danksegging is 'n tyd wanneer ons al die goeie dinge onthou wat God uit genade vir ons gegee het. Soms verhoed die dolle gejaag van hierdie tyd van die jaar dat ons tyd inruim om God te dank vir al sy baie geskenke. Hierdie bemoedigende oordenkings van Paul David Tripp, wat elkeen slegs vyf minute neem om te lees, sal jou aanmoedig om God se genade heeldag lank te oordink.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/new-morning-mercies-hcj/