Onweerstaanbaar: 'n 6-dag leesplan deur Andy StanleyVoorbeeld
Geskiedenis wat Werd is om Herhaal te Word
Wanneer ek Christene en kerkleiers in die Verenigde State hoor kla oor die struikelblokke wat die kerk vandag in die gesig staar, weet ek nie of ek moet lag of huil nie. Struikelblokke? Regtig? Watter soort struikelblokke? In vergelyking met die onoorkomelike uitdagings wat die eerste- en tweede-eeuse gelowiges ondervind het, is ons struikelblokke lagwekkend. Die sekularisering van ons land? Morele agteruitgang? Verlies van godsdiensvryheid? Hollywood wat Christene nie reg uitbeeld nie?
Is dit alles?
Stel jou voor om hierdie klagtes aan ’n handjievol Romeinse Christene uit die eerste eeu te noem. Dit terwyl hulle in die agterkamer van ’n tweede verdieping woonstel, ’n gedeelte van Matteus se evangelie by kerslig lees, die enigste stukkie van die Skrif wat hulle besit. Stel jou voor dat jy ons mense wat vir al die verkeerde moderne redes die geloof verlaat het, as tydreisigers kan terugneem na dié hartverskeurende era in die kerkgeskiedenis. Stel jou voor hoe leeg, oppervlakkig en heeltemal absurd ons argumente vir Jesus se volgelinge sou klink, hulle wat nooit ’n gedeelte van die Skrif besit het nie, maar wat deur die apostel Petrus self onderrig is.
Stel jou voor dat jy dieselfde groep tydreisigers na ’n huiskerk in Korinte of Efese neem. Stel jou voor die verwarde kyke wat hierdie moderne skeptici sou ontvang as hulle begin kla oor die geweld wat in die Joodse Skrif uitgebeeld word. Eerste-eeuse aanhangers van Die Weg is nie deur geweld afgeskrik nie. Hulle was daardeur omring. Bowendien staan die boodskap van Jesus in skrille kontras met die bloedige, gewelddadige metodes van die Romeinse ryk en tempel.
Hoe sou ons tydsreisigers reageer op ’n weergawe van geloof wat niks te doen het met die skeppingsverhaal of die geskiedenis van die Jode nie? Stel jou hul verbasing voor wanneer hulle ontdek dat hierdie buitengewone mense verkies het om Jesus te volg omdat Hy die ewige lewe aangebied het en uit die dood opgestaan het om sy reg op die maak van so ’n verregaande aanbod te bevestig.
Nietemin, genoeg is aan die verbeelding oorgelaat.
Hoe sou ons reageer?
Hoe sou jy reageer?
Hoe sal jou weergawe van geloof staande bly onder die noukeurige ondersoek van hierdie, meestal ongeletterde, maar tog so ’n dapper geslag Christene?
Daar was een keer ’n weergawe van ons geloof wat veilig op ’n enkele, ongekende gebeurtenis gerus het — die opstanding. Dis die weergawe wat ek jou nooi om aan te gryp. Die oorspronklike weergawe. Die weergawe wat blywend, verdedigbaar, 'n nuwe verbond en nuwe opdrag is.
Oordink: Dink jy ons moderne weergawe van geloof is te maklik om te weerstaan en dus maklik om van die hand te wys? Is ons te vasgevang in wat ons daaruit kan kry, as wat liefde van ons vereis?
Meer inligting oor “IRRESISTIBLE” deur Andy Stanley - AndyStanley.com/Irresistible
Aangaande hierdie leesplan
Eendag, lank gelede, was daar 'n weergawe van ons geloof wat in werklikheid . . . onweerstaanbaar was. In hierdie leesplan, deur Andy Stanley, sal jy kan nadink oor die voorbeeld van geloof wat ons broers en susters uit die eerste eeu aan ons gestel het. Hulle het geen amptelike Bybels of status gehad nie, en tog het hulle 'n reeks gebeure begin wat die mees betekenisvolle en omvangryke kulturele gedaanteverwisseling veroorsaak het, wat die wêreld nog ooit gesien het.
More