Ware AanbiddingVoorbeeld

True Worship

DAG 2 VAN 5

Ware Aanbidding

deur

Rocky Fleming

Dag Twee — Stilte

In die verlede, toe ek in die sakewêreld gewerk het, het ek baie keer in gebed ingestorm asof dit net nog 'n besige taak was om af te handel, sodat ek kon aangaan na die volgende projek van die dag. Selfs nou nog, in die voltydse bediening, moet ek waak teen hierdie gewoonte van my, want ek is net so besig soos voorheen met "die Here se werk", asof dit 'n verskoning is. Ek is seker ek is nie die enigste een nie. Ek wed jou jy weet wat ek bedoel? 

Ons kan sê dis nie waar nie, maar die waarheid lê in dit wat ons dóén, en nie in ons geloofstelsel nie. Ons kan in die krag van gebed glo, en ons kan lank genoeg vroom wees om ons oë toe te maak en ons gebedjie op te sê vir die Almagtige God, maar is ons werklik gereed om Hom te ontmoet in ware eerbied en respek? Besef ons Wie ons aanspreek en verstaan ons die voorreg wat aan ons gegee is om voor 'n Heilige God te staan? Neem jy 'n oomblik om te dink aan hierdie dinge voordat jy die Koning van alle Konings aanspreek? Ek wil graag 'n paar gedagtes deel oor hoe stilte 'n persoon vir aanbidding kan voorberei. Ek sal met jou deel wat vir mý help.

Dit help my om my gebed te begin deur myself stil te maak voor die Here, en te onthou Wie ek nou nader. Stilte is 'n goeie manier om dit te doen, maar eerlikwaar, ons kan stil wees met ons woorde terwyl ons gedagtes en denke besig is met dinge wat nog gedoen moet word. Die stilte waarvan ek praat, is om toe te laat dat die dinge wat ons in gebed na God wil bring net vir 'n oomblik eenkant gesit word vir 'n groter doel, en dit is bewondering. Om God te bewonder, is om Hom te erken vir sy majesteit en vir Wie Hy is. 

Dikwels eer ons God vir wat Hy deur die loop van die geskiedenis gedoen het en vir wat Hy in ons lewens gedoen het of besig is om te doen. Ons verwaarloos egter ons bewondering van Hom, deur Hom nie te dien vir Wie Hy is nie. Wanneer ons onsself voor die Here in woorde en in gedagtes stilmaak, begin ons 'n proses van aanbidding wat ons neem na 'n plek waar ware aanbidding kan plaasvind.

Ek vra dat jy die aangehegte Skrifgedeelte sal lees en dink aan wat Dawid gedink het toe hy dit geskryf het. Ek stel voor dat jy ook luister na een van jou gunsteling aanbiddingsliedere.  'n Goeie een is "Let It Rain" deur Jesus Culture.  Soek dit op YouTube of op jou musiektoep.  Dit sal jou help om 'n gevoel van ontsag te ontwikkel, wat 'n goeie plek is om by te begin vir ware aanbidding. Laat toe dat dit jou voorberei. 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

True Worship

Aanbidding bestaan nie net uit dienste op Sondagoggende, Woensdagaande of wanneer ons saam met ander gelowiges vergader nie.  God nooi ons uit na 'n lewe van aanbidding.  Kom ontdek saam met ons wat dit werklik beteken om God te aanbid en hoe om dit te doen.  Aan die einde van die leesplan sal jy God loof en prys.

More

Baie dankie aan Influencers Global Bediening wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.influencers.org